Drie vas ná moord op Potch-rugbylegende

Sias Willemse en sy vrou, Tobianna (Foto: Facebook)

Drie verdagtes sal na verwagting vandag in die Potchefstroomse landdroshof verskyn in verband met die moord op Sias Willemse (74).

Twee mans, onderskeidelik 25 en 28 jaar oud, en ʼn 19-jarige vrou is Saterdag in Ikageng in verband met die moord in hegtenis geneem.

Willemse, ʼn bekende oudrugby- en -krieketspeler van Potchefstroom, se liggaam is op 22 September in sy huis op die dorp gevind. Hy is met twee skietwonde in sy nek aangetref. Daar was ook verskeie dasse om sy nek vasgebind.

Die Potchefstroom Herald berig dat een van die verdagtes glo ʼn oudwerknemer van Willemse is.

Die polisie kon kort ná die moord nog nie vasgestel het wat in die huis vermis word nie. Willemse se kluis is oop aangetref, maar dit het nie gelyk of dit oopgedwing is nie. Verskeie jaggewere is in die kluis gevind en dit was nie dadelik duidelik of ander vuurwapens uit die kluis vermis word nie.

Volgens die berig in die Potchefstroom Herald is daar wel later vasgestel dat ʼn klein bedrag kontant uit die huis gesteel is.

Willemse is beskryf as ʼn “groot rugbygees en ywerige krieketman” en ʼn ware “Potch-legende”. Hy is ʼn oud-Puk- en Wes-Transvaalse krieketspeler. Hy het ook op sy dag die Potch-Dorp-rugbyklub as kranige speler op die veld verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

FM ·

Dit is telkemale ‘n werker

Daardie bietjie gemak is nie mens se lewe werd nie

Wanneer dit met marteling gebeur is dit afskuwelik en die prys hoog

Al die werk van die speurders is net om die nagevolge op te ruim

Daardie kosbare lewe is onherroeplik wég

MakersMark ·

Sekere mense kan nie vertrou word nie. Geen waarde sisteme wat hul optrede beheer nie. Hoeveel keer is die gedrag al waargeneem ?

Stefnie ·

Soos die spreekwoord sê: die makste hond byt die seerste

Genis ·

Dit is ongelukkig tyd dat boere moet probeer meganiseer sover moontlik.. die haat teen die witman is te erg in die land.. hartseer saak is, politieke vet gevrete kaders stook die haat aan…

Marlize ·

Dit is hoekom ons nie werkers het wat vir ons werk nie. Ons doen maar self al die dinge by ons huis wat ons moet doen. Al kom ons nie by alles uit nie doen ons dit nogsteeds. Ons dag begin al in die oggende 3:30 wanneer ons opstaan vir werk ons ry 5:15 werk toe om betyds te wees met die verkeer. Ons kom in die aande 18:00 uur eers by die huis. So die tyd is maar min in die aande en my man werk elke 2de naweek ook. Maar ons veiligheid is meer van belang vir ons as enige iets anders. Dit is hoekom ons verkies om sonder ‘n tuinman en huishulp klaar te kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.