Drie vas ná ontvoering, rooftog

Argieffoto

Drie verdagtes sal Vrydag in die Richardsbaai-landdroshof verskyn nadat hulle vroeër vandeesmaand na bewering ʼn onderneming beroof en ʼn man in KwaZulu-Natal ontvoer het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê speurders van Richardsbaai was Woensdag besig om inligting oor die verdagtes op te volg. “Hulle het na Melmoth en Nseleni gegaan en twee verdagtes is daar vasgetrek. Die derde verdagte is in die Richardsbaai-omgewing vasgetrek,” het Zwane gesê.

Daar is tydens die inhegtenisneming van die derde verdagte beslag gelê op ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, sowel as ʼn selfoon.

Volgens Zwane was die slagoffer op 12 Desember teen 17:40 by sy sakeperseel in Richardsbaai toe die drie verdagtes hom genader het.

“Hulle het glo ʼn vuurwapen op hom gerig en ʼn onbevestigde hoeveelheid kontant van hom gesteel. Hulle het ook sy vriend ontvoer en met hom in hul VW Polo weggejaag,” het Zwane gesê.

Die man is later deur die ontvoerders vrygelaat.

Die verdagtes sal in die hof verskyn op aanklagte van sakeroof en ontvoering. Die derde verdagte sal aangekla word op ʼn bykomende aanklag van besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.