Drie vas ná plaasaanval; gesteelde vuurwapens gevind

Argieffoto

Argieffoto

Drie verdagtes, tussen 17 en 18 jaar oud, is in die Oos-Kaap in hegtenis geneem ná ʼn aanval op ʼn plaas.

“Die verdagtes het na bewering ʼn plaasarbeider by De Rust-plaas genader en die persone het begin stry,” het ao Hannes Holtzhauzen, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. “Een van die verdagtes het die plaasarbeider in die gesig en nek geskiet.”

Die verdagtes is daarna na die plaashuis en het die deur oopgebreek. “Hulle het ʼn paar meubels gesteel en agterop die boer se bakkie gelaai en daarmee weggery,” het Holtzhauzen bygevoeg. “Die saak is by die polisie aangemeld en die polisie het dadelik reageer. Die ondersoek het die beamptes Maandag tot by Arcadia-plaas gelei waar die verdagtes nog steeds met die boer se bakkie rondgery het.”

Die verdagtes is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op drie vuurwapens en die gesteelde goedere. Die vuurwapens is positief uitgeken as die wapens wat in April vanjaar in verskillende voorvalle in Aberdeen gesteel is.

Die verdagtes staan tereg op aanklag van poging tot moord, huisbraak, diefstal van ʼn motor, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en die besit van gesteelde goedere. Hulle sal Donderdag in die Aberdeen-landdroshof verskyn. Hulle bly in polisie-aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

KarooKlong ·

Regstelling:
Die Arbeider is net skrams deur die neus geskiet.
Die verdagtes is ongedeerd nieteenstaande dat die voertuig vol duike geskiet is. Een patroon is deur die vensters van agter na voor geskiet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.