Drie vas ná Pta-hawelose in kruisvuur sterf

Die vrou wat noodlottig gewond is in die kruisvuur. Foto: Verskaf

Die vrou wat noodlottig gewond is in die kruisvuur. Foto: Verskaf

Drie verdagtes is Vrydag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem weens ʼn skietvoorval waartydens Charlene Buys, ʼn hawelose vrou langs haar man in kruisvuur tussen die polisie en drie vermeende rowers in Pretoria doodgeskiet is.

Konst. Tumisang Moloto, polisiewoordvoerder, het die inhegtenisnemings aan Maroela Media bevestig. Hy het egter gesê inligting is nog skaars in dié stadium en hy sal binnekort meer besonderhede bekend maak.

Maroela Media het vroeër berig Charlene is Maandag langs haar man, Jaco, doodgeskiet toe ʼn oor-en-weer-skietery tussen die polisie en drie vermeende rowers uitgebreek het.

Moloto het vroeër aan Maroela Media gesê die rowers het omstreeks 09:30 die eienaar van ʼn drankwinkel in Steve Bikoweg geskiet en beroof terwyl hy nog in sy motor gesit het. Hulle het in ʼn silwer Honda Ballade in ʼn westelike rigting van die toneel weggejaag.

Twee polisiebeamptes van die Wonderboompoort-polisiestasie was besig met roetinepatrollie in die omgewing toe hulle opgemerk het dat ʼn silwer Honda oor ʼn stopstraat jaag sonder om stil te hou. Hulle het die motor agternagesit nog voordat hulle glo geweet het die insittendes was pas by die rooftog betrokke.

Die verdagtes het besef hulle word agtervolg. Hulle het ʼn effense voorsprong gehad en het by die kruising van Smooklaan en Fred Nicholsonstraat om ʼn blinde draai stilgehou, uit hul voertuig geklim en die polisiebeamptes ingewag.

Die verdagtes het op die polisie losgebrand toe hulle by die kruising aankom. Die polisie het teruggeskiet. Charlene het in daardie stadium langs die pad geloop en is noodlottig deur ʼn dwaalkoeël gewond.

Dit is nie tans bekend of sy deur die verdagtes of die polisie geskiet is nie. Dit sal deur ’n verdere ondersoek bepaal word.

Die Wonderboompoort-polisie ondersoek ʼn saak van moord, poging tot moord en gewapende roof.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine V ·

Ek hoop dat geregtigheid vir hierdie vrou sal geskied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.