Drie vas ná roof by klerewinkel

(Argieffoto: pixabay)

Drie vermeende rowers is vas nadat hulle glo ʼn winkelsentrum in Kuruman in die Noord-Kaap beroof het.

Die polisie glo dié drie verdagtes is dieselfde drie gewapende rowers wat Saterdag ʼn Markhams-tak in die Kathu-winkelsentrum bestorm en selfone, klere en kontant gebuit het.

“Sondag is nóg ʼn Markhams volgens dieselfde modus operandi beroof en ʼn aantal selfone geroof,” sê Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder van die Noord-Kaap.

’n Gesamentlike ondersoek deur die Valke in Kuruman, die misdaadvoorkomingseenheid en die polisie se honde-eenheid het die polisie na ʼn huis in die Maruping-nedersetting buite Kuruman gelei.

“Die drie verdagtes is gekonfronteer. Een van hulle is in die skouer geskiet toe hy probeer weghardloop het,” sê Mnisi.

Polisielede het op ʼn 9 mm-pistool, kluissleutels, selfone, drie Markhams-baadjies, ʼn paar drafskoene en kontant in die huis afgekom.

Die drie is tussen 30 en 39 jaar oud en sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof in Kuruman verskyn op aanklagte van roof en die besit van gesteelde goedere en onwettige vuurwapens.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.