Drie vas ná skietgeveg met polisie

Argieffoto: SAPD, Facebook

Drie verdagtes is Donderdagmiddag in Durban in hegtenis geneem ná ʼn skietgeveg met die polisie.

Lt.kol. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder vir KwaZulu-Natal, het gesê die voorval het omstreeks 14:45 in Bellair in Durban-Suid plaasgevind.

“Beamptes van die Chatsworth-polisie was besig met ʼn polisieoperasie toe hulle ʼn VW Golf met vyf insittendes opgemerk het,” het Zwane gesê.

“Die bestuurder van die voertuig het weggejaag toe hulle die polisie sien en die beamptes het hulle agternagesit.”

Die insittendes van die voertuig het na bewering op die polisie begin skiet. Hulle het teruggeskiet en twee verdagtes gewond. Die verdagtes het met die voertuig stilgehou en te voet probeer vlug.

“Die polisie het die twee gewonde verdagtes kort daarna aangekeer. Die derde verdagte is met die hulp van die honde-eenheid opgespoor en in hegtenis geneem.”

Die ander twee verdagtes kon daarin slaag om te ontsnap en is steeds soek.

Die beseerde verdagtes is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.

Die polisie het onder meer op ʼn ongelisensieerde vuurwapen beslag gelê.

Die verdagtes moet binnekort in die Durban-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.