
Foto: African News Agency
Drie vermeende misdadigers is Dinsdag in hegtenis geneem ná ‘n hoëspoed jaagtog en skietgeveg met die polisie.
Supt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse Metropolisie, het gesê die voorval het omstreeks 11:30 in Crownwoodweg naby Crown Mines plaasgevind.
“Metropolisiebeamptes het ʼn verdagte silwer VW Touareg opgemerk en aangedui die voertuig moet aftrek. Die voertuig se bestuurder het egter geweier om van die pad af te trek en die insittendes het eerder op die polisie losgebrand.”
Volgens Minnaar het die polisie teruggeskiet en een van die verdagtes is in die regterskouer en bolyf gewond.
“Ons het later vasgestel die voertuig is vroeër in die Jeppe-area gesteel,” het hy gesê.
Daar is beslag gelê op ʼn ongelisensieerde AK47-aanvalsgeweer, ʼn Uzi-semi-outomatiese masjiengeweer en ʼn Star-pistool.
Die drie verdagtes is in hegtenis geneem en aanklagte van diefstal en die onwettige besit van vuurwapens sal teen hulle aanhangig gemaak word. Die gewonde verdagte is tans onder polisiebewaking in die hospitaal, het Minnaar gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
7 Kommentare
Wat van n poging tot moord en rig van n vuurwapen?
Al die moorde in S A is met of gesteelde of ongelisensieerde vuurwapens gepleeg en nogsteeds ,probeer hulle mense wat wettige vuurwapens wil of het onteien.
En die aanklagte van “poging tot moord”? Het hulle nie op polisie geskiet nie?
Mnr Minaaar sukkel soms om by die regte woorde uit te kom , gee hom maar nog ‘n kans!
Mooi so! Ons is baie dankbaar aan die polisielede wat hulle lewens in gevaar stel om ons land veiliger te maak.