Drie vas ná vigilante-aanval

Een van die huis wat aan die brand gesteek is. Foto: Verskaf

Drie verdagtes is in hegtenis geneem in verband met ʼn vigilante-aanval vandeesweek in Limpopo.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die verdagtes, tussen 28 en 38 jaar oud, is Donderdagaand tydens ʼn spesiale polisieoperasie in hegtenis geneem.

Dit volg ná ʼn voorval Woensdagaand in Hlogotlou buite Groblersdal waartydens ʼn groep ontstoke inwoners omstreeks 21:00 op ʼn verwoestingstog in die Vlakfontein-nedersetting gegaan het.

“Die groep het glo oproerig geraak nadat ʼn inwoner aangemeld het dat haar ses bokke weggeraak het terwyl die vee buite die nedersetting gewei het. Die inwoners het twee verdagtes aangekeer en met verskeie voorwerpe aangerand,” het Ngoepe gesê.

Ngoepe het gesê dieselfde groep het daarna na die verdagtes se huise gegaan en vier huise aan die brand gesteek. ʼn Voertuig is ook uitgebrand voordat die polisie gereageer en tot die redding van die twee verdagtes gekom het. Die openbare orde-polisie is in die gebied ontplooi om die situasie te monitor.

Die polisie ondersoek sake van opsetlike saakbeskadiging, aanranding met die doel om ernstig te beseer, poging tot moord, openbare geweld en vier sake van brandstigting. Die skade wat die groep aangerig het, word op R200 000 beraam.

Die drie verdagtes moet Maandag in die Groblersdal-landdroshof verskyn. Die soektog na hul medepligtiges duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Klaas met gedult vir misdadigers ·

Suid Afrikaners se geduld is klaar met misdadigers!

Leahim ·

Soos altyd en hou dop ondersoek hulle alweer , wat van misdaad voorkom en bekamp hoe moeilik kan dit wees of is dit makliker om te sê daar word geondersoek en die saak word gesluit agv n tekort aan bewyse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.