Drie vas oor 27 000 kg se hoendervleis

Die hoendervleis waarop daar beslag gelê is. (Foto: Verskaf)

Twee mans en ’n vrou is vandeesweek in hegtenis geneem nadat owerhede by ’n stoorfasiliteit in Gauteng toegeslaan het en op 27 000 kg se hoendervleis afgekom het. Dié besending hoendervleis is glo nooit by doeane verklaar nie en herlei sodat die verdagtes nie doeanebelasting en BTW daarop hoef te betaal nie.

Die verdagtes het na bewering boonop ’n groot bedrag omkoopgeld aan owerhede aangebied om inhegtenisneming vry te spring.

Kol. Dimakatso Sello, woordvoerder van die polisie, sê die polisie se honde-eenheid en eenheid vir georganiseerde misdaad (narkotika-afdeling) het op ’n stoorfasiliteit in City Deep toegeslaan nadat hulle inligting ontvang het oor goedere wat herlei word om doeanebelasting en BTW te ontduik.

Die omkoopgeld wat aan polisiebeamptes aangebied is. (Foto: Verskaf)

Die vrag pluimveevleis is op ’n vragmotor in die stoorfasiliteit aangetref.

Twee mans is in hegtenis geneem vir bedrog en korrupsie sowel as oortreding van die Doeane- en Aksynswet.

“Een van die verdagtes het omkoopgeld van R800 000 aan lede aangebied om inhegtenisneming vry te spring. Die vrou wat die kontant gebring het, is ook vir korrupsie in hegtenis geneem.”

Al drie staan nou tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie.

Sello sê die owerhede se ondersoek het hulle intussen na nog ’n maatskappy gelei wat ook daarvan verdink word dat hulle die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) bedrieg het. In die geval is op vier houers met ingevoerde pluimveevleis beslag gelê. Die eienaar van die maatskappy kon nie enige dokumente verskaf nie.

Die saak is intussen vir verdere ondersoek na die SAID verwys.

Die hoendervleis waarop daar beslag gelê is. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Nou sal mens wonder aan wie die onwettige hoendervleis verskaf word ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.