Drie vas oor 36 motordiefstalsake

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

Drie mans is in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by nagenoeg 36 voorvalle van motordiefstal.

Nog vier verdagtes is ʼn dag later in verband met dieselfde ondersoek aangekeer.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, sê Daniel Magata (37), Thobile Silindane (34) en Kgaugelo Kubeka (26) is Donderdag in onderskeidelik Soweto en Langlaagte in Johannesburg vasgetrek.

Dié drie word glo verbind met 36 sake van motordiefstal. Hiermee saam staar 17 aanklagte van bedrog en twee aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom hul nou in die gesig.

Volgens Tselanyane is die misdade tussen Junie 2017 en Junie vanjaar in onderskeidelik Gauteng en Noordwes gepleeg.

“Magata en Silindane het Vrydag reeds in die Atamelang-landdroshof verskyn en sal na verwagting weer op 6 Januarie in die hof verskyn vir ʼn formele borgtogaansoek,” sê hy.

“Kubeka is borgtog van R500 toegestaan ​​nadat hy Vrydag in die Lichtenburg-landdroshof verskyn het. Hy sal na verwagting weer op 31 Januarie voor dieselfde hof verskyn.”

Ná verdere ondersoek is nog vier verdagtes tussen die ouderdomme van 31 en 47 jaar in onderskeidelik Mmabatho, Setlagole en Madibogo in hegtenis geneem nadat hulle met die vermeende sindikaat verbind is.

Die vier verdagtes sal na verwagting Dinsdag in die Setlagole-hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.