Drie vas oor aanrandingsvideo

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle die gereg in eie hande geneem en toe ʼn man vermoor het, het Vrydag in ʼn hof in Mpumalanga verskyn.

“Joel Lubisi (51), Duncan Mbokodo-Sambo (33) en Calvin Sibiya-Suthu (27) is op ʼn waarskuwing vrygelaat,” het lt.gen. Solomon Makgale, woordvoerder van die polisie, gesê. Die landdroshof in Tonga het die saak tot 19 Mei uitgestel vir verdere ondersoek. Die mans is Donderdagaand in hegtenis geneem.

ʼn Ontstellende video van die voorval het opslae gemaak op sosiale media. Daar is aanvanklik berig dat die voorval op verkiesingsdag in Alexandra, noord van Johannesburg plaasgevind het, maar die polisie het later vasgestel die video is in Februarie in Tonga, Mpumalanga, gemaak.

Die video van sowat twee minute wys hoe ‘n man in ‘n oranje T-hemp op die grond lê en deur omstanders geskop word. Van die mense spring ook op die man terwyl ‘n ander man hom erg met die agterkant van ‘n byl aanrand. Van die omstanders in die video het ANC-hemde aan. Daar is aanvanklik berig dat die slagoffer ʼn vrou is. Die video was vroeër op verskeie webwerwe beskikbaar, maar is intussen verwyder. The Citizen het ‘n geredigeerde weergawe van die video opgelaai. (Die video volg onderaan die berig. WAARSKUWING: Die video kan sensitiewe kykers ontstel.)

Makgale het bevestig die voorval het op 17 Februarie plaasgevind.

ʼn Huisroof het glo daardie dag by Blok B in Tonga plaasgevind en ʼn egpaar is deur vier aanvallers doodgeskiet. “Die aanvallers het die egpaar se dogter na die gesin se sakeonderneming ontvoer om geld te eis,” het Makgale gesê. “Die dogter is glo verkrag voordat hulle haar vrygelaat het.

Die misdaad is by die polisie aangemeld. “Terwyl die polisie die saak ondersoek het, het die gemeenskap met hul eie soektog na die verdagtes begin. Die gemeenskap het een verdagte aangekeer en hom doodgeslaan,” het Makgale verduidelik. Die man het glo ʼn onbekende bedrag R2-muntstukke en ʼn selfoon by hom gehad. Die muntstukke is vermoedelik uit ʼn snoekertafel gesteel.

“ʼn Tweede verdagte is glo ook deur die gemeenskap aangekeer en vermoor.”

Twee mans is op dieselfde dag in verband met die moord op die man en vrou en verkragting van die dogter in hegtenis geneem. Fana Samuel Mashabane (30) en Mcolisi Mandla Shongwe (24) het ook in die Tonga-landdroshof verskyn op aanklag van moord en verkragting. Die saak is uitgestel sodat dit na die streekshof verwys kan word. Die mans bly in aanhouding. -SAPA

Lees ook:
Aanrandingsvideo is dalk oud, sê polisie
http://youtu.be/sHk5mEXNRu8

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.