Drie vas oor ARV’s in die Vrystaat

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

ʼn Man en twee vroue is in Welkom in die Vrystaat in hegtenis geneem toe hulle glo met ARV-vermoedelik gesteelde medikasie betrap is.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie persone is Dinsdag in hegtenis geneem toe die Welkom-blitspatrollie ʼn wenk ontvang het oor ʼn voertuig wat medikasie vervoer.

“Die voertuig is voorgekeer en deursoek. Beamptes het beslag gelê op antiretrovirale medikasie (ARV’s) ter waarde van ongeveer R24 000 wat in die kattebak van die motor gevind is,” het Mbambo verduidelik. Die Renault Sandero, waarmee die verdagtes gery het, het ʼn Gauteng-nommerplaat.

“Die 30-jarige man en twee vroue, onderskeidelik 39 en 41 jaar oud, sal binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn.”

Dit is die vierde inhegtenisneming in ʼn kort periode waar persone met groot hoeveelhede ARV’s betrap word. Maroela Media het vroeër berig drie mans en ʼn vrou is in Januarie in Thabong in die Vrystaat in hegtenis geneem toe polisiebeamptes ʼn voertuig voorgekeer en op twee bokse ARV-medikasie afgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.