Drie mans is Dinsdag in Vryburg in Noordwes aangekeer nadat hulle vier bokkarkasse in ʼn lykswa vervoer het.
“Die polisie was op ʼn roetinepatrollie toe hulle die lykswa omstreeks 01:00 opgemerk het,” het kol. Sabata Mokgabone, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hulle het die lykswa agtervolg, maar die bestuurder van die lykswa het sy spoed vermeerder toe hy ontdek hy word agtervolg.”
Die polisiebeamptes het die lykswa, van ʼn begrafnisondernemer in Huhudi naby Vryburg, afgetrek, en vier geslagte bokkarkasse opgespoor. Die mans is ondervra en hulle is na die Taung-Vryburg-pad waar die velle, vier bokkoppe en een skaapkop aangetref is.
“Die skaap en bokke is in Tshoseng naby Pudimoe gesteel en geslag. Die polisie het beslag gelê op die vleis en velle,” het Mokgabone bygevoeg. Die drie mans sal na verwagting Donderdag in die Vryburg-landdroshof verskyn. -SAPA