Drie vas oor Gauteng-rooftogte

Cresta-winkelsentrum (Foto: chuckv.co.za)

Cresta-winkelsentrum (Foto: chuckv.co.za)

Drie mans is Vrydag in Tembisa in Johannesburg in hegtenis geneem in verband met ʼn vlaag winkelsentrumrooftogte in Gauteng.

“Ons het vanmiddag drie uitlanders in Tembisa in hegtenis geneem,” het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, gesê. “Die ondersoek duur voort.

Ramaloko het gesê na verwagting sal nog persone in hegtenis geneem word.

Daar is nog nie ʼn hofdatum vir die drie verdagtes bepaal nie.

Lt.genl. Lesetja Mothiba het Dinsdag gesê winkelsentrums in die provinsie is al 11 keer die afgelope maand beroof. “Gauteng word die swaarste getref,” het Mothiba in Johannesburg aan verslaggewers gesê. Daar was glo geïsoleerde gevalle in ander provinsie, maar Gauteng het al sedert 13 Augustus 11 keer deurgeloop.

ʼn Altech Autopage-selfoonwinkel is Maandagaand by die Glen-winkelsentrum in Johannesburg beroof. Drie gewapende rowers het 15 selfone ter waarde van R34 000 gebuit. Die Samsung-, iStore en Vodacom-winkels by dieselfde sentrum het sedert November deurgeloop.

ʼn Veiligheidswag is Saterdag doodgeskiet toe vier mans hom en sy kollegas by die Diepkloof Black Chain-winkelsentrum in Soweto oorval het. Hulle het kontant afgehaal by die sentrum.

ʼn Samsung-winkel is Vrydag by die Cradlestone-winkelsentrum in Krugersdorp beroof.

ʼn Timberland-klerewinkel is Donderdag by die World Wear-winkelsentrum in Fairlands, Johannesburg, beroof. Agt mans het al die klere in die winkel gesteel.

Die Telkom Connect-winkel by Eastgate in Johannesburg is Woensdag beroof.

ʼn Selfoonwinkel by Northgate het verlede Dinsdag deurgeloop.

Die Telkom Direct-winkel by die Kolonnade-winkelsentrum in Pretoria is ook verlede Dinsdag beroof. Dit was die tweede rooftog by die Kolonnade in twee weke.

Twee veiligheidswagte is verlede Maandag by ʼn Pick n Pay-betaalpunt by Maponya Mall in Soweto van ʼn kontantboks beroof.

Die Apple iStores by die Cresta-winkelsentrum, The Glen en Centurion is onderskeidelik op 13 Augustus, 14 Augustus en 15 Augustus beroof.

Mothiba het gesê 12 winkelsentrums is as hoë risiko uitgeken. Polisiesigbaarheid sal verhoog en Njala-pantservoertuie is ontplooi. Menlyn-winkelsentrum in Pretoria het Dinsdagoggend om 09:00 ʼn ontruimingsoefening gehou.

Die diewe doen hulself glo as klante voor voordat hulle toeslaan.

Mothiba het gesê die polisie vermoed die misdadigers het inligting van werknemers of veiligheidswagte ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.