Drie vas oor Paulpietersburg-plaasmoord

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Drie verdagtes is Vrydagaand in hegtenis geneem in verband met die moord op Nico en Mercia Lens op ʼn plaas in die Paulpietersburg-distrik in KwaZulu-Natal.

“Die Newcastle-taakspan het die mans in Mpumalanga in hegtenis geneem,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die mans het ʼn rewolwer by hulle gehad wat tydens die egpaar se moord gesteel is.”

Nico en Mercia is op 3 September op hul plaas in die Groenvlei-gebied buite Paulpietersburg aangeval. Hul bure het eerste op Mercia se liggaam in die slaapkamer afgekom, nadat ʼn noodsein oor die radiostelsel deurgekom het. Nico se liggaam is aan die buitewyke van die plaaswerf gevind. Klik hier om meer te lees.

“Die drie verdagtes, tussen 27 en 52 jaar oud, sal Maandag in die landdroshof in Utrecht verskyn,” het Zwane bygevoeg. Hulle staan tereg op twee aanklagte van moord en huisbraak.

“Ons sal ondersoek instel om te bepaal of die mans moontlik aan enige ander misdade in die provinsie verbind kan word,” het lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, gesê.

Lees ook:
Drie ondervra oor Paulpietersburg-plaasmoord
Paulpietersburg-plaasmoord: AfriForum lê klag
KZN-plaasmoord: Egpaar op hul plaas doodgeskiet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.