Drie vas oor roof, ploftoestelle by stasie

Die vuurwapen waarop daar beslag gelê is. Foto: ANA

Drie verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering personeel by ʼn busstasie in Johannesburg beroof en gyselaar gehou, voordat hulle ploftoestelle langs kluise in ʼn kantoor geplant het.

Kapt. Xoli Mbele, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het Sondag omstreeks 02:00 by die stasie in Turffontein gebeur.

Volgens Mbele het gewapende mans die busstasie binnegestorm en vuurwapens gerig op die personeel wat aan diens was. Hulle het glo ʼn blou BMW gebruik om die hek van die perseel af te sper.

Mbele het gesê die mans het die personeel van hul geld en selfone beroof, maar iemand kon daarin slaag om die polisie te ontbied.

“Met die polisie se aankoms op die toneel is twee verdagtes by die stasie vasgetrek en in hegtenis geneem. Dit is toe dat die polisie uitvind dit is meer as net ʼn sakeroof – toe beamptes die twee ploftoestelle langs twee kluise sien,” het Mbele gesê.

Die polisie se bom-eenheid is ontbied om die ploftoestelle te deaktiveer.

Kort hierna is ʼn derde verdagte minder as ʼn kilometer van die toneel af vasgetrek. ʼn Vuurwapen, waarvan die reeksnommer afgevyl is, en ammunisie is in sy besit gevind.

Die drie verdagtes, tussen 25 en 30 jaar oud, sal na verwagting vandag in die hof verskyn op aanklagte van gewapende roof, besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en onwettige gebruik van ploftoestelle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

geregtigheid ·

Waar en wanneer gaan die kriminaliteit eindig? Indien ooit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.