Drie mans is in hegtenis geneem in verband met ʼn string rooftogte by sakeondernemings in Sydenham in Durban, KwaZulu-Natal.
Kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, sê die drie verdagtes is deur lede van Inanda se misdaadintelligensie- en honde-eenheid in hegtenis geneem. “Die verdagtes het die sakegemeenskap van Sydenham verlede jaar begin teister. Hulle het glo ondernemings binnegegaan en personeel en kliënte met vuurwapens gedreig en van hul besittings beroof.”
Zwane sê die verdagtes, tussen 20 en 29 jaar oud, word aan 11 rooftogte verbind. Hy sê die polisie ondersoek die moontlikheid dat hulle aan nog rooftogte verbind kan word. Die verdagtes sal Maandag in die Durban-landdroshof verskyn.