Drie mans het Maandag in die Alexandra-landdroshof verskyn in verband met ʼn moord en poging tot moord ná ʼn noodlottige skietery in Midrand, Gauteng.
“Twee vroue het Donderdag glo in die kruisvuur van taxibase beland,” het Phindi Louw, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag gesê. “Hulle het met hul motor verby die kruising van die K101 en Le Rouxweg gery waar ʼn skietery aan die gang was.”
ʼn Dwaalkoeël het ʼn 39-jarige passasier in die kop getref en die bestuurder se regterarm is getref. Die passasier is op die toneel dood verklaar en die bestuurder is na ʼn hospitaal geneem.
“ʼn Groep taxieienaars het in hul privaat motors op mekaar geskiet,” het kapt. Augustinah Selepe, woordvoerder van die polisie, gesê. “Ons het dit egter nog nie bevestig nie. Dit is wat ons vermoed.”
“Die saak is tot 20 Oktober uitgestel,” het Louw gesê. “Die verdagtes sal na verwagting dan aansoek doen om borgtog.”