Drie vas oor springstoftoestelle in Durban

Die toneel by die moskee in Verulam waar twee mense aangeval en een vermoor is (Mei 2018) (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

Drie persone is Vrydagmiddag in hegtenis geneem in verband met springstoftoestelle wat vroeër vanjaar in en rondom Durban geplant is en waarvan sommige afgegaan het.

Bheki Cele, minister van die polisie, het gesê die verdagtes word ook verbind met ʼn gewelddadige aanval in Mei by die Imam Hussain-moskee in Verulam waar Moulana Ali Nchinyane en Muhammad Ali aangeval is en Abbas Essop se keel afgesny is toe hy hulle wou help.

“Ek het die toneel in Verulam besoek en daarna die nasionale polisiekommissaris en die hoof van die Valke opdrag gegee om ʼn multidissiplinêre taakspan (misdaadintelligensie, die Valke, forensiese kenners en die nasionale vervolgingsgesag) aan te stel om die sake te ondersoek,” het Cele Vrydag tydens ʼn perskonferensie by die provinsiale hoofkantoor van die polisie in Durban gesê.

“Die span het die afgelope vier maande hard gewerk en minstens drie verdagtes in verskeie dele van KwaZulu-Natal geïdentifiseer en in hegtenis geneem. Ek kan bevestig dat van hierdie voorvalle met mekaar verbind word en nog inhegtenisnemings sal volg.”

Die mans is Vrydagmiddag in hegtenis geneem net voor die perskonferensie om 15:00, aldus brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie. Hulle staan onder andere tereg op aanklag van moord, oortreding van die Wet op Plofstowwe en brandstigting, het Cele gesê.

“Die span het tot dusver bepaal dat uitbuiting die motief was vir die aanvalle. Ons kan egter nie die moontlikheid van ander motiewe uitskakel nie. Dit sal aan die lig kom soos die ondersoek vorder.”

Die verdagtes is in aanhouding en sal “vroeg volgende week” in die hof verskyn.

Inwoners was weke lank op hete kole terwyl fop-bomdreigemente tussendeur ontvang is terwyl regte springstoftoestelle by winkels in Durban gevind is. Die eerste springstoftoestelle is binne enkele ure op 5 Julie gevind, een elk in die Woolworths-winkels by Gateway Mall en Pavilion.

Nog ʼn toestel is op 7 Julie weer by Woolworths Gateway gevind en nog twee onder twee afsonderlike voertuie, net ʼn paar minute se stap van Greyville-renbaan waar die jaarlikse Vodacom Durban July-perderesies plaasgevind het.

Volgens die polisie was die ongesofistikeerde toestelle nie gebou om te ontplof nie, maar om eerder aan die brand te slaan.

Die Pavilion-winkelsentrum is op 9 Julie ontruim toe ʼn verdagte toestel opgemerk is. Daar is egter later bevestig dit was net ʼn sekuriteitsmerker vir kledingstukke.

ʼn Spar in Wentworth het die aand van 9 Julie ʼn bomdreigement aangemeld en ʼn beheerde ontlonting is uitgevoer.

Bomdreigemente is op 12 Julie aangemeld by Cornubia-winkelsentrum naby Umhlanga, Commercial City in die Durbanse middestad en Phoenix-polisiestasie. Al drie gebiede is ontruim en die polisie het tevergeefs na die toestelle gesoek.

ʼn Springstoftoestel is op 19 Julie in ʼn Woolworths-tak in Durban se middestad ontlont.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.