Drie vas oor vermiste vrou van Marble Hall

Die vermiste vrou, Rebecca Maleswena van Marble Hall (Foto verskaf deur SAPD Limpopo)

Die polisie in Marble Hall in Limpopo het ʼn deurbraak gemaak in die saak van ʼn 38-jarige vrou wat verdwyn het.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê drie persone is in verband met die vrou se verdwyning in hegtenis geneem. “ʼn Span speurders en misdaadintelligensiebeamptes het onverpoosd gewerk sedert Rebecca Maleswena onder geheimsinnig omstandighede op 28 Februarie verdwyn het.”

Suliman Makambira (39) is in Meadowlands in Gauteng in hegtenis geneem. Lucky Mmaphafudi (30) en Selina Phiri (40) is albei in Marble Hall in hegtenis geneem, het Ngoepe bygevoeg.

Phiri is ʼn paar dae ná Maleswena se verdwyning in hegtenis geneem en sy het reeds in die landdroshof in Marble Hall verskyn. Haar aansoek om borgtog is afgekeur en haar saak is tot 23 April 2019 uitgestel vir verdere ondersoek.

Die ander twee verdagtes is vandeesweek in hegtenis geneem. Hulle het Woensdag in die Marble Hall-landdroshof verskyn. Hulle aansoek om borgtog is afgekeur. Hulle moet op 9 April 2019 weer in die hof verskyn.

Die verdagtes staan tereg op aanklag van ontvoering.

“Die inhegtenisnemings volg ná Maleswena, ʼn werknemer van ʼn dokterspraktyk in Marble Hall, op 28 Februarie as vermis aangemeld is deur haar gesin ná sy versuim het om terug te keer huis toe,” het Ngoepe gesê. “Sy het na bewering ʼn telefoonoproep van ʼn onbekende vrou ontvang wat gereël het om haar by ʼn restaurant, wat langs die taxistaanplek in Marble Hall geleë is, te ontmoet. Sy het met ʼn taxi van haar huis af gery en is nooit weer gesien nie.”

Die polisie het inligting opgevolg oor die moontlikheid dat haar liggaam dalk in die Olifantsrivier gestort is. Dié rivier het talle krokodille. “ʼn Soek- en reddingspan van die polisie is dadelik ontplooi en het hulle dae lank tevergeefs na haar gesoek.”

Ngoepe het gesê die drie verdagtes word positief met die verdwyning van die slagoffer verbind. “Die motief is nog nie duidelik nie. Die polisie se soektog na die vermiste vrou en ondersoek oor die ontvoering duur voort.”

Enigiemand met inligting kan kapt. Richard Boshomane kontak by 079 894 5501.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Charlie ·

n Aanklag van ontvoering is gelê, maar die polisie soek met bote op n rivier.
Iets kom kort.!!

willem Botha ·

Dit is effens moeilik selfs die polisie is nie mooi seker wat aangaan nie en weens die onbevoegdheid moet die span speurders en misdaadintelegensie bygestaan deur die trio taakmag en tripeldisipline eenheid ,maar gee nog so jaar of vyf dan behoort hulle te weet wat die klag moet wees

Pensioenaris ·

Ja Charlie, die lyk kom kort. Onvoering tot daar n lyk gekry is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.