Drie vas oor vuurwapens, gekaapte voertuie

Foto: SAPD

Drie verdagtes is in hegtenis geneem nadat die Johannesburgse-polisie Vrydag ʼn wenk ontvang het oor ʼn wit Kia-voertuig met vuurwapens daarin in die Johannesburgse sakesentrum.

Kapt. Xoli Mbele, woordvoerder van die polisie, het gesê lede van die Johannesburgse blitspatrollie en beamptes van die metropolisie (JMPD) het op die wenk gereageer en die voertuig naby Pritchardstraat opgemerk. “Die beamptes het die voertuig probeer voorkeer, maar die bestuurder het spoed vermeerder en oor rooi verkeersligte gejaag om weg te kom,” het Mbele gesê.

ʼn Hoëspoed-jaagtog het gevolg en die voertuig is uiteindelik by Ntemi Piliso-straat voorgekeer naby die Westgate-taxistaanplek. Die bestuurder het uit die voertuig gespring en kon daarin slaag om weg te hardloop, maar drie ander verdagtes is aangekeer.

Polisiebeamptes het die motor deursoek en twee AK 47’s, ʼn LM5-geweer, twee pistole en ammunisie in die motor gevind. “Toe polisie die voertuig se besonderhede nagegaan het, is daar gevind dat dit in Julie 2015 by die Moffatview-polisiestasie as gekaap aangemeld is. Die motor het ʼn ander nommerplaat op gehad toe die polisie dit voorgekeer het,” het Mbele gesê.

Een van die verdagtes het twee motorsleutels by hom gehad en hy het die polisie na Andersonstraat geneem waar twee motors, ʼn silwer VW Polo en ʼn wit VW Golf 7, geparkeer was. Die polisie het op hierdie drie voertuie en nog ʼn Peugeot-voertuig beslag gelê.

Mbele het gesê die verdagtes, tussen 35 en 38 jaar oud, sal binnekort in die Johannesburg-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie asook gekaapte voertuie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris Ws ·

Was dit blankes wat met aanvalsgewere betrap was was hulle sumier aangekla van hoogverraad!Dis sulke dubbelle standaarde wat maak dat die polisie se geloofwaardigheid in die modder le.Ek en my vrou vertrou TWEE polisie beamptes ,NET twee in die hele land want hulle het integriteit en ons ken hulle ‘n klompie jare al.Die res van die mag vertrou ons net mooi niks.

Werner ·

Daai is nie n lm5 nie dit s n dashprod en word deur sekuriteids maatskappye gebruik

Willie ·

Wel gedaan SAP, ek hoop julle kompenseer die informant! Besighede en die publiek moet ñ fonds stig wat informante vergoed op die voorwaarde dat dit gereeld geoudit word om korrupsie te voorkom!

Polla ·

Dankie Sapd, almal nie sleg polisiebeamptes nie. Kyk met watse vuurwapens julle ook afgemaai kon word. Besef julle hoeveel lewens gespaar is, die rowers wou groot roof. Sterkte

Andre ·

Chris Ws, wat as die “enigste betroubare polisiemanne” met velof is ? Jou veralgemening is absurd.
Andre

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.