Drie vas ure ná geldwa beroof word

Argieffoto: SAPD

Drie verdagtes is in hegtenis geneem binne ure nadat ʼn transitovoertuig by ʼn pensioenbetaalpunt naby Lady Frere in die Oos-Kaap beroof is.

Kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, sê drie transitorowers het Vrydag toegeslaan op die betaalpunt in die Glen Grey-gebied terwyl veiligheidswagte die kontant gereedgekry het vir pensioenbetalings.

“ʼn Onbekende aantal rowers het vuurwapens op die pensioenarisse gerig en hulle opdrag gegee om op die grond te lê. Terselfdertyd is die veiligheidswagte ook oorval voordat die rowers met ʼn onbevestigde bedrag geld van die toneel gevlug het,” het Muridili gesê.

ʼn Multidissiplinêre span van die polisie, waaronder die honde-eenheid en lugvleuel, is geaktiveer om die verdagtes op te spoor.

“Die span het die gebied afgesper en met behulp van die lugvleuel is drie verdagtes binne ure in hegtenis geneem. Daar is beslag gelê op ʼn onbevestigde bedrag geld, twee vuurwapens en ʼn voertuig wat vermoedelik as wegkomvoertuig gebruik is.”

Genl. Khehla John Sitole, nasionale kommissaris van polisie, het die betrokke polisiebeamptes gelukgewens met hul vinnige optrede om die verdagtes vas te trek. “Gewapende rooftogte is ʼn misdaad wat vrees in ons gemeenskappe veroorsaak. Ek is bly dat die vermeende oortreders in hierdie voorval wat weerlose lede van ons samelewing van hul lewensbestaan wil beroof nou deur die volle mag van die gereg in die gesig gestaar word,” het Sitole gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Antoinette ·

Gee nie eers om vir weerlose brandarm mense wat afhanklik is van die paar rand per maand nie. Ek hoop hulle word lank toegesluit en mede-gevangenes het geen genade nie.

Manuela ·

watter soort orks doen so-iets aan weerlose ou mense? Party ou mense sukkel om te staan, wat nog te sê om te gaan lê op die harde grond? hierdie rowers het geen gewete of respek vir enige iemand nie. Hulle behoort die ergste straf denbaar te kry

Christa ·

Stem saam. Regte buffels sonder meegevoel vir weerlose oumense.

Johan ·

NIE allmal in die polisie is swak nie ons moet vir hulle bid dankie vir die sterk police

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.