Drie vas vir De Wildt-plaasaanval

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

Drie verdagtes sal binnekort in die hof verskyn in verband met die aanval op Hannes (77) en Annetjie (74) van der Merwe verlede maand op hul plaas in De Wildt in Noordwes.

Die Van der Merwe-egpaar is op 20 Januarie aangeval, gemartel en beroof. Sers. Kelebogile Moleko, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê die verdagtes is Dinsdagoggend in die Mmakau-informele nedersetting naby Brits in hegtenis geneem.

“Die verdagtes is twee Suid-Afrikaners, onderskeidelik 23 en 26 jaar oud, en ʼn 31-jarige Mosambieker,” het Moleko gesê. Drie ongelisensieerde vuurwapens is in hul besit gevind. Die verdagtes sal na verwagting Donderdag in die Garankuwa-landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van  vuurwapens en ammunisie.

Die arrestasies kom nadat drie verdagtes wat kort ná die plaasaanval in hegtenis geneem is, deur die Brits-landdroshof vrygelaat is. Die drie moes op 27 Januarie in die hof verskyn, maar die saak het nooit voorgekom nie, aangesien die senior aanklaer die saak nie op die hofrol geplaas het nie. Daar was glo nie genoegsame bewyse nie, en die polisie se dossier was glo onvolledig. Lees meer hier.

Moleko het gesê die nuwe verdagtes se inligting is nie dieselfde as die drie mense wat vrygelaat is nie. Daar is egter teenstrydige inligting hieroor, met berigte dat dit wel dieselfde verdagtes is. Meer duidelikheid sal Vrydag hieroor bekom word.

Die jongste arrestasies kom nadat AfriForum verlede Maandag ʼn skrywe aan die senior aanklaer gestuur het, om hul kommer uit te spreek oor die hantering van die saak. Die aanklaer het die skrywe aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gestuur vir optrede.

Pieter Rautenbach, AfriForum se algemene adviseur oor gemeenskapstrukture, het gesê die organisasie staan die Van Der Merwe-egpaar by, veral in die lig van die onlangse vlaag moorde in die Hartbeespoort-omgewing. “AfriForum het na aanleiding van die moorde opnuut ʼn vyfpuntplan in die omgewing van stapel gestuur om plaasaanvalle daadwerklik te beveg,” het Rautenbach aan Maroela Media gesê.

Een van dié punte is om seker te maak dat die howe optimaal en daadwerklik optree. “Die polisie doen harde werk, en keer gewoonlik vinnig verdagtes aan. Hulle word egter moedeloos as hulle al die werk doen en die verdagtes kort daarna weer op vrye voet is,” het hy bygevoeg.

In die skrywe wou Rautenbach ondermeer by die aanklaer weet hoekom die nodige hofprosesse nie hier gevolg is nie. “Die verdagtes is vrygelaat al het die egpaar afsonderlik die verdagtes positief uitgeken. Die uitslae van die vingerafdrukvergelykings was ook nog nie beskikbaar nie. In so ʼn geval moet verdagtes in aanhouding bly tot die uitslae beskikbaar is.” Rautenbach het gesê AfriForum beplan om verdere stappe te neem.

Callie van der Merwe, die egpaar se seun, het Woensdag gesê daar is ʼn mate van verligting. Hy het ná die drie verdagtes se vrylating vir sy ouers se veiligheid gevrees, maar is meer gerus met die wete dat daar nuwe vordering in die saak gemaak is.

“Ek dink nie die hof het die reaksie van AfriForum verwag nie,” het Van Der Merwe gesê. “Hulle [AfriForum] het die saak behoorlik en met deursettingsvermoë opgevolg. Ons hou nou die saak met valkoë dop.”

Lees alle vorige berigte oor die De Wildt-aanval op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

ek hoop dat AfriForum hierdie saak tot op die been oopkloof en die nalatige onbewames aan die kaak stel . Skande.

Cornelia ·

Baie dankie AfriForum! Jul probeer regtig jul bes vir geregtigheid vir almal!!

Drieks ·

Elke Suidafrikaner moet asseblief aansluit by AFRI FORUM.
Ons kan net SAAM iets doen en die geld moet van ons kom.
Trots op Afri Forum.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.