Drie vas vir moord op Dewetsdorp-inwoner

Iris Potgieter van Dewetsdorp se rooi Volkswagen Golf  is Woensdag by ‘n vulstasie gewaar.  (Foto: Twitter)

Drie verdagtes is Vrydag in Bloemfontein in hegtenis geneem ná die moord op ’n inwoner van Dewetsdorp in die Vrystaat.

Die 66-jarige Iris Potgieter van Carollstraat se liggaam is Woensdag in ’n oop stuk veld aangetref, naby ʼn informele nedersetting buite die dorp waar sy glo ʼn televisiestel vir iemand gaan aflaai het.

Ooggetuies het gesien hoe haar rooi Volkswagen Golf in die rigting van die oop veld ry. Die insittendes van die motor het stilgehou, iets afgelaai en toe weggejaag. Die polisie is na die toneel ontbied waar Potgieter se lewelose liggaam ontdek is.

Potgieter se Volkswagen Golf is Woensdag omstreeks 16:00 in beeldmateriaal by ’n vulstasie vasgevang waar twee mans brandstof ingegooi het.

Foto’s van die motor is sedertdien wyd op sosiale media versprei in ’n poging om die vermeende moordenaars vas te trek.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het intussen gesê die gesteelde motor is gistermiddag in die omgewing van Bloemfontein (Manguang) gewaar.

Twee mans en ’n vrou, almal tussen die ouderdomme 19 en 26, is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op die gesteelde motor.

Die verdagtes sal na verwagting Maandag op aanklag van moord, motorkaping en die besit van ’n gesteelde motor in die hof verskyn.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann ·

N bose absolute gewetenloosheid word aangevuur deur ‘n totaal onbevoegde en onverandwoordbare regs en veiligheids stelsel. Bloot NOG n statistiek wat MADHATTER vir almal voorhou as normaal….SIEK samelewing.

Dup ·

Hulle gee nie om as hulle gevang word nie,die skade is reeds aangerig en nou gaan hulle lekker warm in die selle sit en drie keer per dag kos kry.

Cherokee ·

Ou storie wat waarskynlik onwaar is. Natuurlik hoop en dink hulle dat hulle nie gevang sal word nie. Ek twyfel of hulle elke dag bier kan drink in ‘n tronk, en waarskynlik mag hulle ook nie elke dag selfone gebruik nie. Geykte storie dus.

Frank John ·

Ai, vir wat gaan laai sy TV af op so ‘n plek alleen?

Cherokee ·

Miskien verkoopsdame vir wie die kommissie broodgeld sou wees.

Peach ·

Frank John, mense met goeie harte soos sy, sien net goed in haar medemens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.