Drie vas vir Pta-moord

Die rewolwer waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf

Drie verdagtes is in Centurion in hegtenis geneem in verband met ʼn moord tydens ʼn gewapende rooftog vroeër vanjaar in die gebied.

Konst. Tumisang Moloto, polisiewoordvoerder, het gesê die sukses volg nadat ʼn span speurders saamgestel is om ernstige en geweldsmisdade in die Pretoria-Wes-polisiëringsgebied te bekamp.

“Op 14 April vanjaar het ʼn groep gewapende mans teen 22:00 op ʼn sakeonderneming in Olievenhoutbosch toegeslaan. Die eienaar en dié se broer was in die winkel,” het Moloto gesê.

Volgens Moloto het die rowers een van die mans noodlottig gewond en ʼn onbekende bedrag geld gesteel voor hulle op vlug geslaan het.

“Die Trio-taakspan het onlangs inligting ontvang oor waar die verdagtes skuil. ʼn Intelligensiegedrewe operasie is gehou en die mans is Woensdagaand in Olievenhoutbosch, onderskeidelik uitbreiding 36 en uitbreiding 26, in hegtenis geneem.”

Die polisie het tydens die inhegtenisnemings op ʼn rewolwer beslag gelê.

Die verdagtes, tussen 36 en 45 jaar oud, moet binnekort in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en sakeroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.