Drie vas vir renosterstropery

renosters-witrenoster

Argieffoto (Foto: Casey Allen/Pexels)

Drie vermeende renosterstropers is Vrydag in die Kruger Nasionale Wildtuin vasgetrek in verband met renosterstropery.

Ike Phaahla, woordvoerder van SANParke, sê ’n toeris het die oggend by ’n veldwagter aangemeld dat hy twee geweerskote tussen Malelane en Skukuza gehoor het. Die ligging is aangegee as noord van die Afsaal-piekniekterrein.

“In reaksie hierop is ’n helikopter, die honde-eenheid en veldwagters onmiddellik uitgestuur om ondersoek in te stel. Die helikopter het oor die gebied gevlieg en een vars renosterkarkas en ’n beseerde renoster wat langs die karkas gelê het, gewaar,” sê Phaahla.

“Ná verdere ondersoeke is daar op nog twee renosterkarkasse in die omgewing afgekom.”

Die spore wat op die toneel gevind is, is vir ’n paar kilometer gevolg. Die snuffelhonde het gevolglik drie verdagtes opgespoor en hulle is summier in hegtenis geneem.

Die verdagtes is almal van Mosambiekse herkoms en is volgens die polisie onwettig in die land. Hulle is in besit gevind van ’n hoëkaliber‑jaggeweer, ammunisie, horings van drie renosters, selfone en ander stroperytoerusting.

“Die verdagtes sal teregstaan op aanklagte wat verband hou met renosterstropery sodra die polisie hul ondersoek afhandel. Die polisie moet vasstel of die beweerde oortreders voorheen by ander soortgelyke of ander misdade betrokke was.”

Die beseerde renoster moes van kant gemaak word weens die erns van die beserings.

Gareth Coleman, bestuurshoof van die Krugerwildtuin, het al die teenstropingspanne geloof oor hul sukses om die oortreders op te spoor. Hy het ook die toeris bedank wat die veldwagters van die geweerskote in kennis gestel het.

“In hierdie moeilike teenstropingsveldtog is dit baie belangrik vir toeriste om ons ore en oë te wees,”  sê Coleman.

“Die wildtuin is groot en veldwagters kan nie oral wees nie, daarom is dit van kardinale belang dat enigiemand wat iets verdags opmerk, dit dadelik aanmeld om die veldwagters te help om vinnig te reageer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

Ja hierdie onwettiges word mos genooi om hier te kom verwoes en plak!

Toy ·

Hulle moes eintlik die doodstraf gekry het, mens raak nou mooi dik vir hierdie mense wat als vernietig vir eie gewin.

Pieter ·

Mense wat God se skepping so verwoes verdien die doodstraf. Geen hof kan God vervang nie.

Dries ·

Hang hulle aan die naaste boom op en nooi die publiek om te kom kyk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.