Drie vas vir stadiongeweld

‘n Skermskoot uit ‘n video van die chaos op die veld.

Die polisie in KwaZulu-Natal het drie verdagtes in hegtenis geneem nadat ʼn sokkerwedstryd op 21 April in die Moses Mabhida-stadion in Durban in chaos ontaard het.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het Dinsdag gesê die drie verdagtes, ʼn 35-jarige vragmotorbestuurder, ʼn 29-jarige bestuurder van ʼn taxistaanplek en ʼn 35-jarige taxi-eienaar sal na verwagting Woensdag in die Durban-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met openbare geweld.

Die verdagtes is deur die provinsiale taakspan in hegtenis geneem.

Naicker het weer eens ʼn beroep gedoen op diegene wat tydens die voorval beseer is om die polisie in kennis te stel. “Baie van die mense wat beseer is, het net die stadion verlaat nadat hulle mediese behandeling gekry het en nie hul kontakbesonderhede aan die polisie verskaf nie,” het Naicker gesê.

Die polisie meen ooggetuies sal hulle kan help om die skuldiges vas te trek wat deelgeneem het aan die geweld en verwoesting van eiendom op dié betrokke dag.

Maroela Media het vroeër berig die geweld het ontstaan die oomblik toe die eindfluitjie blaas ná ʼn Nedbank Cup-halfeindstryd tussen Kaiser Chiefs en Free State Stars. Die Chiefs het die wedstryd met 2-0 verloor.

Honderde ondersteuners het op die veld gestorm en spelers en veiligheidswagte moes vir hul veiligheid vlug. Terwyl die wedstrydkameras steeds die gebeure vasgevang het, het toeskouers begin om stadionstoele aan die brand te steek, skareversperrings en toegangshekke te beskadig, kameratoerusting te vernietig en ʼn veiligheidswag aan te rand. Altesaam 18 mense is in die voorval beseer.

Zandile Gumede, burgemeester van eThekwini, het later gesê die skade aan die stadion beloop na raming R2,6 miljoen.

Enigiemand wat ʼn ooggetuie van die geweld was of die polisie andersins kan bystaan in hul ondersoek na die voorval, word versoek om kapt. Reddy by 082 458 5630 of ao. Mlungwana by 082 662 7764 te bel. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

snoefie ·

gaan hulle medaljes en rdp huise kry? want hulle gaan nie vervolg word nie. poor misunderstood victims of a a awat?

SjN ·

Swak verloorders, gaan seker nou beradering ontvang en skotvry daarvan afkom

bertus ·

Waarom wag for getuies. TV beelde was duidelik. Kyk beskadeging van TV kamera. Bertus

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.