Drie vas vir vermiste PE-man se moord

Die toneel waar die liggaam gevind is. Foto: Atlas Security

ʼn Vrou sal Maandag saam met haar seun en dogter in ʼn hof in Port Elizabeth verskyn in verband met die moord op Petrus Scholtz (70) wie se liggaam Donderdag tussen bosse langs ʼn pad in Fairview gevind is.

Die Oos-Kaapse polisie het in ʼn verklaring gesê die 55-jarige vrou, haar 35-jarige dogter en 31-jarige seun is Vrydagaand in Woltemadestraat in Kabegapark in hegtenis geneem.

Die polisie het ook reeds die meeste van Scholtz se gesteelde besittings teruggekry, insluitend sy gereedskap en blou Isuzu-dubbelkajuit-bakkie. Die bakkie is glo aan ʼn persoon in Noordeinde verkoop en die polisie het Saterdagoggend daarop beslag gelê.

Maroela Media het vroeër berig Scholtz, wat vir ʼn elektriese firma werk, is Dinsdag met die werksbakkie by sy werk weg na sy huis toe. Hy is Dinsdagaand weer by sy huis weg na ʼn kliënt in Kabegapark. Volgens die polisie het hy in sy vrye tyd elektriese herstelwerk gedoen. Hy was sedertdien vermis.

Sy liggaam is Donderdagoggend deur ʼn verbyganger wat op pad was werk toe tussen bosse langs ʼn grondpad gevind. Albei Scholtz se hande en voete was met ʼn nylontou vasgebind en sy kop was met kleefplastiek bedek. Die polisie het ook vroeër gesê Scholtz was “gewelddadig aangerand”, hoewel die presiese oorsaak van sy dood nog nie bekendgemaak is nie.

Volgens die polisie het die ondersoekspan daarna onverpoosd gewerk om leidrade op te volg en die inhegtenisneming is Vrydag omstreeks 18:30 uitgevoer deur ʼn span gelei deur kol. Paul Orange en beamptes van die Valke in Port-Elizabeth. Die motief en omstandighede rakende Scholtz se moord moet nog vasgestel word.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekspan vir die spoedige inhegtenisneming geloof en die publiek aangemoedig om enige verdagte gedrag in hul gemeenskappe by die polisie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wilma ·

Maak n voorbeeld van hieri moordenaars. Howe se straf hopeloos te lig.

Arno ·

Vir moord, verkragting en gewapende roof…..bring terug die tou.

Her ·

Hulle behoort ook dieselfde gevonnis word as die doodskis 2.
Die wet is nie meet konsekwent nie

TLC ·

Yeah daar is tog SAPD wat hul werk kan doen so trots op julle Waar kom jul vandaan ons het nog van julle nodig RIV oom

Paul ·

Gaan sit die dinge of fox news op twitter dan sal die buite wereld weet wat hier aan gaan

volla ·

Wat is die ras van die moordenaars? Ek sien sommige het reeds sekere gevolgtrekkings gemaak.

Beatrix ·

Enigiemand wat nog vrywillig in hierdie land van misdadigers, boewe, skurke en noem maar op, bly is stapelgek Dit is nie meer ‘n plek vir wetsgehoorsame burgers nie Gaan landuit as jy kan!! Sou wat wou gee om my tasse te pak!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.