Drie vas wat bejaarde glo ontvoer, besteel

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

Twee mans en ʼn vrou is in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn 74-jarige pensioenaris in Port Shepstone ontvoer en probeer indoen het.

Kol. Thembeka Mbhele, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het gesê die voorval het Maandag in die dorp se sakekern plaasgevind.

“Die drie verdagtes het die pensionaris genader terwyl sy by ʼn kitsbank besig was om geld in te betaal. Die verdagtes het gemaak asof hulle speurders is wat sekere sake ondersoek en vir haar gesê om saam met hulle in hul voertuig, ʼn silwer Toyota Etios, te klim.”

Volgens Mbhele het die verdagtes saam met die vrou na haar huis in Umtwalume gegaan sodat sy haar geld kon kry voordat sy dit sou verloor. “Vandaar is die verdagtes met die vrou na ʼn winkelsentrum in Kingsway waar hulle daarin kon slaag om geld uit haar rekening te trek.”

Intussen is die Port Shepstone-polisie deur die vrou se familielede in kennis gestel dat die vrou saam met die verdagtes opgemerk is en dat sy nie met haar eie voertuig by die huis opgedaag het nie. Haar voertuig was opgespoor waar sy dit naby die kitsbank geparkeer het.

Die verdagtes het omstreeks 13:00 met die vrou by die kitsbank opgedaag, waarna hulle in hegtenis geneem is. Die mans is onderskeidelik 31 en 28 jaar oud, en die vrou 53 jaar oud.

Die polisie het die verdagtes se voertuig deursoek en op ʼn groot bedrag geld afgekom wat onder die sitplek weggesteek was. Daar was ook koeverte wat met opgevoude koerantpapier gevul was.

Die verdagtes moet binnekort in die Port Shepstone-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, dat hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het, ontvoering en die besit van gesteelde eiendom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ken benoni ·

Bring terug die sjambok, en laat die skuldiges op die paaie of by DBV werk! Hulle kan ons parke en strate skoon hou in hul orange pakkies!! Belasting betalers kan iets terug kry om hulle verblyf te regverdig!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.