Drie vas wat bejaarde man ontvoer, aanhou

(Argieffoto: pixabay)

Drie verdagtes is Woensdag in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by die ontvoering en aanhouding van ʼn 76-jarige man. Hulle het die man glo oornag in Phillip Nel-park in die weste van Pretoria aangehou terwyl hulle geld uit sy bankrekening onttrek het.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, sê lede van die Valke in samewerking met die Tshwane-metropolisie, die polisie se honde-eenheid sowel as Tracker Connect, het saamgewerk om die bejaarde man op te spoor en die verdagtes vas te trek.

Dié taakspan het ʼn verdagte Hyundai i20-voertuig dopgehou en gesien hoe die motor met twee insittendes by ʼn vulstasie intrek.

“Die twee insittendes het uit die voertuig geklim en na die OTM geloop waar hulle geld in verskeie transaksies onttrek en daarna weggery het.”

Die taakspan het die voertuig met die twee verdagtes agternagesit en daarin geslaag om hulle voor te keer. Die verdagtes was in besit van die slagoffer se bankkaart en ander waardevolle items.

“Die verdagtes het toe die adres van ʼn perseel gegee waar die slagoffer aangehou is. Die taakspan het die perseel betree en daar nóg ʼn verdagte aangekeer. Die geskokte, maar ongedeerde slagoffer is bevry en sy voertuig is ook op die toneel gevind.”

Ramovha sê die polisie het op die verdagtes se voertuig wat tydens die misdaad gebruik is, kontant, selfone en die slagoffer se bankkaarte beslag gelê.

Die drie verdagtes, onderskeidelik 34, 36 en 37 jaar oud, sal na verwagting binne die volgende 48 uur in die hof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagtes van ontvoering, afpersing en die besit van gesteelde goedere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Antoinette ·

Dankie dat hy ongedeerd is, en vir almal wat betrokke was om die skurke aan te keer.

Mieke ·

Verdagtes? Skuldiges eerder!! Gee sommer hulle name sodat almal kan weet wie hulle is.!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.