Drie verdagtes is tydens ʼn spesiale operasie in hegtenis geneem nadat hulle glo saamgesweer het om ʼn munisipale amptenaar te laat vermoor.
Volgens kol. Sibongile Soci, polisiewoordvoerder, is die taktiese reaksie-eenheid in Bityi in die Oos-Kaap versoek om bystand te verleen in die ondersoek na ʼn beweerde sameswering om ʼn amptenaar van die Mhlontlo-munisipaliteit te laat vermoor.
“Nadat daar met beamptes van misdaadintelligensie vergader is, is besluit dat twee beamptes hulle as huurmoordenaars sou voordoen.
“Die beamptes het ʼn ontmoeting met die verdagtes gereël en die span van die taktiese reaksie-eenheid is in die Northcrest-omgewing in Mthatha ontplooi waar die vergadering sou plaasvind.”
Volgens Soci het die beamptes ʼn voertuig met drie insittendes opgemerk en hulle voorgekeer. “Die verdagtes, tussen 27 en 29 jaar oud, is in hegtenis geneem.”
Daar is op twee 9 mm-pistole en ammunisie beslag gelê.
Die verdagtes sal Maandag in die Qumbu-landdroshof verskyn op aanklag van sameswering om moord te pleeg.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
1 Kommentaar
Hmmm…. Dalk het hy/sy hulle aangespreek en oor die vingers getik, nou soek hulle wraak.