Drie vas wat glo batterye uit selfoontoring probeer steel

Die battery wat teruggevind is (Foto: SAPS)

Vier mans is Dinsdag op heterdaad betrap toe hulle probeer het om batterye uit ’n Vodacom-selfoontoring by Monteseel in KwaZulu-Natal te buit. Drie van die vier verdagtes is in hegtenis geneem.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, sê ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy het gesien hoe die vier verdagtes in ’n wit Chevrolet-bakkie probeer het om batterye uit ’n selfoontoring naby ’n uitkykpunt in die bergagtige omgewing van Monteseel te steel.

Die veiligheidsmaatskappy, Nhlalenhle Security, het die polisie en die eThekwini-brandweer na die toneel ontbied.

“Twee verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem. Die ander twee het die bosse ingehardloop,” vertel Mbele.

“Een van dié twee verdagtes is later deur veiligheidsbeamptes van Nhlalenhle Security vasgetrek. Die vierde verdagte word nog gesoek.”

Die drie verdagtes word in die polisiekantoor in die Inchanga-nedersetting, net wes van Durban, aangehou.

“Een van die batterye is in die verdagtes se voertuig gevind.”

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het hierdie vandalisme veroordeel en gesê die skuldiges moet aan die pen ry.

Die misdaadtoneel (Foto: SAPS)

“Wat belangrik is, is dat die KZN-regering tegnologiese innovasie as van kritieke belang beskou in die bespoediging van die ekonomiese groei en die ontwikkelingstadia. Telekommunikasie-infrastruktuur, breëbandnetwerke en digitale innovasie, wat behoorlik benut word, kan KwaZulu-Natal ’n leier in Afrika en die wêreld maak,” het Zikalala gesê.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, het ook hierdie dade veroordeel en gesê dat telekommunikasie van kardinale belang is in die stryd teen die pandemie.

“Dit is betreurenswaardig dat die broodnodige netwerkinfrastruktuur vernietig word. Die land het tans veerkragtige en hoëspoedverbindings nodig vir elke burger om hulle in staat te stel om sinvol aan die digitale ekonomie deel te neem, ” het Ndabeni-Abrahams vroeër gesê.

Zikalala het vroeër vandeesmaand op ’n spesiale vergadering die mites oor 5G wat glo Covid-19 veroorsaak, besweer. ANC-raadslid, Sfiso Mngadi, het onder meer inligting versprei dat mense siek word weens die 5G-torings wat in dieselfde tyd opgerig is as toe die tweede vlaag van infeksies uitgebreek het.

Hierdie verkeerde inligting wat op sosiale media versprei is, het gelei tot die vernietiging van verskeie torings van groot netwerkverskaffers.

Die ANC en Zikalala het hulle van Mngadi se opmerkings gedistansieer en hom tot verantwoording geroep oor sy wilde bewerings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stefan

Hierdie tipe ‘diefstal’ is eintlik meer sabotasie en kan lewensverlies tot gevolg hè, en moet dus sodanig aangekla en gestraf word.

Nie Verbaas

Weet nie hoekom kla die ANC kaders nie. Die wetteloosheid en misdaad is immers tog deur hulle eie toedoen.

Sarel

” tot verantwoording geroep” wat beteken dit?
Die vals boodskap is klaar uit.

marius

Wou seker aan eskom verkoop …

Robert

Hulle behoort swaar gestraf te word in ag genome die moontlike gevolge van hulle selfsugtige optrede!!!