Drie vas wat glo geld ná transitorooftog wou vat

Argieffoto

Die Valke in die Vrystaat het ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur na ʼn groep swaargewapende verdagtes wat ʼn geldwa buite Kestell beroof het.

Kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die groep verdagtes het Maandag teen 08:15 met ʼn wit Ford Ranger en ʼn Nissan X-Trail op die geldwa toegeslaan.

“Drie veiligheidsbeamptes is aangeval en twee van hulle is geskiet en gewond. Die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag geld van die toneel gevlug en is steeds soek. Die twee voertuie wat in die rooftog gebruik is, is later verlate naby Afrikaskop gevind. Daar word vermoed dat die verdagtes met drie wegkomvoertuie van daar op vlug geslaan het,” het Mbambo gesê.

“Die polisie is na die rooftoneel ontbied waar drie mense in hegtenis geneem is wat die geld wat agtergelaat is wou steel. Hulle moet binnekort in die Kestell-landdroshof verskyn op aanklag van diefstal.”

Die twee gewonde veiligheidsbeamptes is na ʼn hospitaal in Bethlehem geneem vir mediese behandeling. Een van hulle is intussen ontslaan. Die ander beampte se toestand is nie tans bekend nie.

Die rooftog word deur die Valke ondersoek. Enigiemand met inligting wat die Valke in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om kapt. Ndamane Moshoaduba by 082 854 7540 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cor ·

Indien jy n transito voertuig op jou roete teekom draai om , maak dat jy wegkom , want daar gaan verseker n poging tot roof plaasvind. Dit is nou die tyd van die jaar waar hierdie rowers op die platteland konsentreer.

hans ·

Dit is vir my so ironies, ons kom op n toneel af waar mense mediese hulp benodig, maar nee ons sal ons self help met die geld wat daar lê en dan seker sommer ook van hul private besittings beroof ook. Dit is die samelewing in wat ons nou is. Geen respek vir ander se lewe nie, net die eie ek wat tel en dehel met die res. Hoeveel keer ervaar mens dat wanneer daar n ongeluk of so iets is dat daar hordes mense is wat net staan en kyk en niks verder doen nie. Ons sal nie die beseerdes help nie, net n toeskouer wees. Jy het nie nodig om medies opgely te wees om bystand te lewer wanneer daar nog nie mediese personeel is nie. beskerm die beseerdes en die toneel om so die skuldiges vas te keer. Moet ook nou nie n waaghals wees as jy nie weet wat jy doen nie. Soms reken ek dat die ems personeel waaghalse moet wees om te doen wat hul soms moet doen.

Anelle Pretorius ·

Ek woon naby Afrikaskop en dit is die tweede geldwa wat geroof is naby Kestell in minder as 6maande.

WimdeLeeuw ·

Dit gaan eenvoudig my verstand tebowe dat die sekuriteits-maatskappye nog nie aan ”n oplossing vir hiérdie euwel gedink het nie ! Dit is mos redelik eenvoudig ? ! Of wil hulle ter wille van winste (GELD) slegs aan die minimum vereistes van die Versekerings-Maatskappye voldoen ? Wat van ”n tweede voertuig met tenminste twee goed-opgeleide en goed gewapende persone wat hierdie geldwa volg ? Gaan dit te veel kos ? Vra maar net .

Cherokee ·

Toe stap die rowers weg met die hoofdis en drie ander word gearresteer omdat hulle die oorskiet wou vat. Die antwoord om die probleem op te los is eenvoudig en ek het dit vele kere genoem in hierdie forums. Dit is so eenvoudig as om helder kleurstof wat die geld permanent sal merk, in die geldtrommels te laai. ontwerp dat dit deur die geld vloei indien die trommels oopgeforseer word. Male sonder tal het ek dit hier genoem maar om een of ander onverklaarbare rede word die rooftogte (eerder verdra).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.