Drie vas wat glo geld vir tenders eis

Die iSimangaliso-vleilandpark in KwaZulu-Natal. (Foto: Facebook)

Drie verdagtes is agter tralies vir beweerde tenderongerymdhede ten bedrae van sowat R100 miljoen by die St. Lucia-munisipaliteit in KwaZulu-Natal.

Nokuthula Lafuleni-Zungu, ʼn boukapasiteitsbestuurder by die iSimangaliso-vleilandpark, Caiphus Khumalo, ʼn direkteur by die park, asook Nkosinathi Victor Ntshangase, ʼn vriend van Lafuleni-Zungu en ʼn wildbewaarder by Isimangaliso, is tydens ʼn lokval in hegtenis geneem.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê die drie verdagtes het glo geld van verskeie diensverskaffers geëis wat werk vir die St. Lucia-munisipaliteit doen.

Die voorlopige polisieondersoek het vasgestel dat die geld betaal is in rekeninge wat met minstens al drie verdagtes verbind word. Nog inhegtenisnemings word boonop binnekort verwag.

Lafuleni-Zungu, Khumalo en Ntshangase het Dinsdag in die Empangeni-landdroshof verskyn en staan tereg op aanklagte wat verband hou met onder meer tenderongerymdhede, bedrog, korrupsie, diefstal en rampokkery.

Hul aansoeke om borgtog sal op 29 Desember aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.