Drie verdagtes wat na bewering probeer het om olifanttande naby ʼn Gautengse winkelsentrum te verkwansel, sal Donderdag in die landdroshof in Kempton Park verskyn.
Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, sê die drie is gister naby Festival Mall aan die Oos-Rand in hegtenis geneem nadat owerhede ʼn wenk van die publiek ontvang het dat hulle probeer om twee olifanttande vir R150 000 van die hand te sit.
Beamptes van die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad het naby die winkelsentrum op die niksvermoedende trio toegeslaan en hulle in hegtenis geneem. Die drie, onderskeidelik 28, 37 en 39 jaar oud, sal in die hof verskyn op aanklag van die besit en handel in olifanttande in oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit.
Die Valke se ondersoek na die oorsprong van die tande duur voort.
Arrogant verby! Om sommer so te probeer om ivoor te verkoop, dit terwyl hul weet dit is onwettig! Druk daai olifanttande op waar die son nie skyn nie!
Sekerlik by een van die menigte ‘Chinese’ winkeltjies probeer verkwansel.