Drie vas wat glo op bakkie losbrand

Die wapens waarop beslag gelê is. (Foto: SAPD)

Drie verdagtes is Maandag in hegtenis geneem nadat hulle na bewering twee insittendes van ’n bakkie in Brackenfell in die Wes-Kaap doodgeskiet het.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê die Bellville-polisie se eenheid vir motordiefstal het die verdagtes in ’n jaagtog ná afloop van die skietery vasgetrek.

Dit volg nadat drie gewapende verdagtes Maandag omstreeks 15:50 op twee insittendes van ’n Toyota-dubbelkajuitbakkie op die hoek van Labelle- en Wattsweg in Brackenfell losgebrand het. Die insittendes, albei mans van 25 en 40, is doodgeskiet.

Traut vertel dat die verdagtes in ’n VW Polo op vlug geslaan het, met die polisie kort op hul hakke. ’n Jaagtog tussen die polisie en die verdagtes het vanaf dié voorstad ontstaan waarna drie verdagtes van onderskeidelik 28, 35 en 46 jaar oud later in Khayelitsha in hegtenis geneem is.

Volgens Traut het die polisie ook beslag gelê op ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in die verdagtes se besit.

“Daar is op vier 9 mm-vuurwapens, waarvan drie ongelisensieerd is, asook verskeie soorte ammunisie beslag gelê. Die moontlikheid dat die moorde gekoppel is aan die taxibedryf kan in dié stadium nié uitgesluit word nie,” het Traut gesê.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jakes ·

Dis mos die Willeweste hier in SA. Dis algemene protocol in SA om na willekeur o mense te skiet want dis uiters skaars dat die boewe gevang word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.