Drie vas wat glo roof, hul as polisie voordoen

Van die vermoedelik gesteelde goedere wat in die verdagtes se besit gevind is. (Foto: SAPD)

Drie mans, onder wie ’n veiligheidsbeampte by die eThekwini- plaaslike munisipaliteit, is in hegtenis geneem vir hul vermoedelike betrokkenheid by ’n rooftog in Dassenhoek in KwaZulu-Natal. Hulle word ook daarvan beskuldig dat hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het.

Die verdagtes, tussen 28 en 44, is verlede week twee opeenvolgende dae in die KwaNdengezi-gebied in ʼn munisipale voertuig opgemerk. Gemeenskapslede het agterdogtig geraak en die polisie daarvan in kennis gestel.

Toe die gemeenskap Donderdag skote hoor en ondersoek instel, is dieselfde voertuig met vyf insittendes gewaar. Die insittendes het uitgeklim toe lede van die gemeenskap hulle genader het. Twee het te voet gevlug terwyl drie mans terug in dié voertuig gespring en weggejaag het.

Die polisie het die voertuig in Tshelimnyama onderskep en voorgekeer.

Lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê ʼn koeëlvastebaadjie, boeie, ʼn polisie-glimbaadjie, ‑reënjas en -sweetpakbaadjie, polisiepette, pistoolsakke en nommerplate is gevind toe die polisie die voertuig en verdagtes deursoek het.

“Die bestuurder van die voertuig is ’n veiligheidsbeampte by die munisipaliteit. Hy het ’n pistool in sy besit gehad en ’n munisipale voertuig gebruik om sy medepligtiges rond te ry en die misdade te pleeg.

“Hy is in hegtenis geneem en word aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, vermoedelik gesteelde goedere en dat hy hom as polisiebeampte voorgedoen het.”

Die ander verdagtes is ook in hegtenis geneem en word deur dieselfde klagte in die gesig gestaar.

Hulle verskyn Maandag in die Pinetown-landdroshof.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eugene ·

Ek persoonlik vertrou die polisie glad nie. Die 2 hoedmanne keur dit goed wat hulle doen.

Roek ·

dit is asof ‘n mens by ‘n afgrond na benede stort met geen vang net, hoe op aarde gaan ons dit oorbrug ?

domheks ·

Waar kry hulle die polisie klere? Die Munisipaliteit het nie beheer oor sy voertuie nie! Lekker SA! Belasting betalers betaal nog vir die skelms ook vir vervoer!

Marcello ·

Wow !! Dankie vir die op-en-wakker gemeenskapslede, ek dink hulle is ookal moeg van al die misdaad wat plaasvind…. Maar ook BRAVO aan die Polisie beamptes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.