Drie vas wat glo sakeman se saak sou ‘laat verdwyn’

Argieffoto

Drie verdagtes, tussen 33 en 51 jaar oud, wat hulle glo as lede van die Valke voorgedoen het, is in hegtenis geneem.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê die verdagtes is Woensdag in Midrand in hegtenis geneem.

Volgens Mulaudzi het die Valke onlangs ʼn klag ontvang van ʼn vooraanstaande sakeman oor ʼn persoon wat hom glo as ʼn generaal-majoor van die Valke voorgedoen het en geld van die sakeman probeer kry het om ʼn saak waarby die sakeman betrek word te “laat verdwyn”.

Die Valke het ʼn ondersoek na die bewerings van stapel gestuur en dit het aan die lig gekom dat daar nie so ʼn generaal-majoor in die Valke is nie. “Daar is ʼn lokval vir die drie verdagtes gestel en hulle is in hegtenis geneem. Daar is op verskeie goedere beslag gelê hangende verdere ondersoek.”

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het die inhegtenisnemings as ʼn deurbraak beskryf en gesê berigte van sogenaamde onprofessionele lede doen die eenheid se beeld skade aan.

“Ons het talle klagtes ontvang van slenters waarby vermeende Valke-lede glo betrokke is en hoëprofiel-mense in die regering en die private sektor wat geteiken word en daar dan geld geëis word om sake te laat verdwyn.”

Lebeya het gesê hulle vermoed daar is ʼn sindikaat wat die Valke se naam gebruik om mense te bedrieg. Hy het gesê ʼn ondersoek is aan die gang om die “baasbreine” agter die sindikaat vas te trek.

“Die Valke sal niemand bel en op geld aandring nie. Ons doen ʼn beroep op mense om enige moontlike slenter onmiddellik by wetstoepassingsagentskappe aan te meld.”

Die drie verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Midrand-landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie en uitbuiting. Mulaudzi het gesê daar kan moontlik nog aanklagte teen die verdagtes aanhangig gemaak word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.