Drie vas wat glo vrag vleis kaap

Van die vleis waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: SA Polisie)

Drie mans verskyn later in die landdroshof in Athlone in die Wes-Kaap nadat hulle na bewering ʼn vragmotor wat vleis in Philippi afgelewer het, gekaap het.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het gesê die vragmotorbestuurder was Dinsdag om 09:20 besig met aflewerings in Gugulethu toe drie mans hom genader het.

“Terwyl hy by ʼn verkeerslig in Govan Mbekirylaan gewag het, is die bestuurder en twee passasiers deur drie gewapende verdagtes genader. Hulle het die sleutels geëis en die insittendes beveel om op die vragmotor se agterste sitplek te gaan sit. Hulle het daarna na die Ramaphosa- informele nedersetting gery,” het Rwexana gesê.

Hulle het die bestuurder en passasiers afgelaai en een van die gewapende verdagtes het by hulle langs die pad gewaak, waarna die ander verdagtes verder gery het. ʼn Paar minute later was een van die verdagtes terug en het hy die drie beveel om terug in die vragmotor te klim en die gebied te verlaat.

Die vragmotorbestuurder het ʼn polisievoertuig voorgekeer en die voorval aangemeld.

Terwyl hulle die vragmotor deursoek het, het die polisie ʼn 29-jarige verdagte in die voertuig gevind en in hegtenis geneem.

Nog twee verdagtes is kort daarna in dieselfde gebied in hegtenis geneem. Daar is vleis in hulle besit gekry.

“Die drie verdagtes verskyn later vandeesweek in die Athlone-landdroshof. Die 29-jarige sal aangekla word van die besit van ʼn gekaapte voertuig en die ander twee, onderskeidelik 23 en 42 jaar oud, sal aangekla word van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Soortgelyk sal waarskynlik baie meer voorkom indien die regering se planne nie werk nie en kos nie uitkom by wie dit moet nie. Daar is natuurlik ook gewone kriminaliteit by diegene wat die situasie uitbuit vir eie gewin.

Brakenjan ·

So was daar nog een van die diewe agter in die kajuit ook toegesluit?

Deon ·

Blyk so te wees, nou hoe dom is die mense? Of moes hulle nou maar net n “verdagte” in hegtenis neem om goed te lyk?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.