Drie vas wat hul as Covid-19-amptenare voordoen

Die verdagtes wou die polisie ‘n rat voor die oë draai met die Covid-19-kentekens op die voertuie (Foto: Verskaf)

Drie verdagtes is Maandag vroegoggend op Ekulindeni vasgetrek nadat hulle glo hulself as Covid-19-amptenare voorgedoen het om die grens na ʼn buurland oor te steek om dagga onwettig in die land in te smokkel.

Die drie verdagtes, tussen die ouderdomme van 31 en 35, sal na verwagting Dinsdag in die Chief Albert Luthuli-landdroshof verskyn.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê die polisie het inligting ontvang oor twee verdagte voertuie met Covid-19-kentekens wat glo op pad is om die grens na Swaziland onwettig oor te steek.

Die polisie het die inligting opgevolg en ’n VW Polo-sedan sowel as ’n Toyota Hilux-bakkie wat aan  die beskrywing voldoen, op Ekulindeni by die Swaziland-grens opgespoor en voorgekeer.

Hlathi sê die polisie het  drie insittendes met vervalste permitte in die voertuie aangetref. Hulle het hulself as Covid-19-amptenare probeer voordoen deur Covid-19-kentekens op die voertuie aan te bring.

“Die verdagtes het glo dié slenter bedink om die grens na Swaziland oor te steek met die doel om dagga daar te gaan afhaal,” sê Hlathi.

Die verdagtes wou die polisie ‘n rat voor die oë draai met die Covid-19-kentekens op die voertuie (Foto: Verskaf)

Die verdagtes is summier in hegtenis geneem. Hulle is aangekla vir die oortreding van die rampbestuurregulasies aangesien hulle ook onwettig tussen provinsies (Limpopo en Mpumalanga) beweeg het. Die voertuie is gekonfiskeer vir verdere ondersoek.

Die verdagtes staar ook aanklagte van bedrog in die gesig omdat hulle hulself as Covid-19-amptenare voorgedoen het.

Volgens Hlathi verwelkom die polisie die inhegtenisneming van die drie. Hy het ook gewaarsku dat diegene wat ten tyde van die afsonderingstydperk soortgelyke slenters bedink, uitgevang en in hegtenis geneem sal word.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale kommissaris van die polisie in Mpumalanga, het intussen gesê dat die verdagtes nie daarin kon slaag om die polisie ʼn rat voor die oë te draai met die Covid-19-kentekens op hul voertuie nie. “Die polisie was meer oplettend as wat hulle gedink het,” sê Zuma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Strandloper ·

Shame…hul volg maar net die voorbeeld van die land se leiers….ten minste het hul nie rond gekuier of geparty nie….die twakies is mos wettig?

Jacobus ·

Jô. Die vlak van opportunisme laat mens sidder wanneer ons aan die groot geld (R500b.) dink wat op die tafel gaan kom.
Sê maar net.

Michael 1 ·

Waar kan ek sulke kentekens kry ,ek vra namens n vriend?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.