Drie vas wat kollegas se klubgeld steel

Die drie het altesame R3,5 mijoen gesteel. (Argieffoto: Josh Appel/Unsplash)

Drie munisipale amptenare wat miljoene rande van hulle kollegas se spaargeld gesteel het, is swaar tronkstraf opgelê.

Jackie Tshabalala, Letitia Mafuta en Anna Mdangane, almal amptenare van die Rand West City-munisipaliteit, is in die Palm Ridge-handelshof skuldig bevind op 16 aanklagte van diefstal van meer as R3,5 miljoen.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, sê Tshabalala is 15 jaar tronkstraf opgelê, terwyl Mafuta en Mdangane tronkstraf van agt jaar elk opgelê is. Die helfte daarvan is opgeskort vir vyf jaar op voorwaarde dat hulle nie in dié tyd weer skuldig bevind word aan diefstal of poging tot diefstal nie.

Munisipale werkers van die vakbond Samwu het vroeër toestemming gekry om ʼn sosiale klub genaamd die Abasebenzi Christmas Club by die plaaslike owerheid op die been te bring. Die doel was om die geld te spaar wat van werkers se salarisse afgetrek is en in die klub se rekening inbetaal is. Die geld sou dan aan die einde van die jaar verdeel word in ooreenstemming met elke lid se bydrae, sê Mjonondwane.

Tshabalala, Mafuta en Mdangane was administrateurs van die rekening en het tekenregte daarop gehad. Tshabalala het in die salarisafdeling gewerk, terwyl Mafuta en Mdangane algemene werkers by die munisipaliteit was.

Die klub se rekening en dié van die vaardigheidsontwikkelingsheffing is gekoppel en die geld vir die heffing is verkeerdelik in die klub se bankrekening inbetaal.

“Die drie het daarna dié geld in hul private bankrekeninge vir persoonlike gebruik inbetaal,” sê Mjonondwane.

Tshabalala se posisie het hom toegang tot die betaalstelsel van die munisipaliteit gegee en hy het groot bedrae geld van die sosiale klub se bankrekeninge na die drie se eie rekeninge oorbetaal.

Staatsaanklaer Frans Mhlongo het aangevoer die oortreding was uiters ernstig en dat hul werkgewer die drie in ʼn vertrouensposisie geplaas het.

Mhlongo het voorts aangevoer die drie is aangespoor deur hebsug, het hul mag misbruik en gesteel by diegene wat hulle betaal het.

“Die diefstal van openbare geld is veral skadelik waar die marges klein is en skenkings moeilik is om te doen, veral in ʼn ekonomie wat swaar kry. Elke rand word benodig vir die plaaslike regering en hierdie soort geldelike verlies kan katastrofies wees vir die goeie naam van die munisipaliteit en sy voortgesette bedrywighede,” het Mhlongo aan die hof gesê.

“Die beskuldigdes het geld weggeneem van waardige projekte.”

Die hof het bevind die drie het geen reg of rede gehad om die geld in hul eie bankrekeninge in te betaal nie en hulle skuldig bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nie Verbaas ·

Dit wys net weer dat selfsug oorheers en logiese denke totaal afwesig is. Wat het hulle gedink gaan gebeur as die geld uitbetaal moet word? Glad nie sover gedink nie.

Francois ·

As mense hulle vernuf vir skelm streke maar net kon aanwend om dinge reg te doen, sou die land in ‘n magtige posisie wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.