Drie vas wat rooftogte glo versin

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

ʼn Winkelwerknemer en twee veiligheidswagte is die afgelope naweek in hegtenis geneem nadat hulle in twee afsonderlike voorvalle glo vals klagte van sakerooftogte by die polisie aanhangig gemaak het.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, sê die eerste beweerde rooftog is Saterdagmiddag by ʼn sonbrilwinkel in die Mall of Africa-winkelsentrum in Midrand aangemeld. ’n Werker van dié winkel het die polisie ingelig dat ʼn gewapende rower na bewering ʼn onbekende bedrag geld uit die winkel gesteel en gevlug het.

“Die werker het oënskynlik onder eed verklaar dat die winkel deur ʼn onbekende verdagte met ʼn vuurwapen beroof is,” sê Peters.

“Minder as ʼn dag nadat die saak aangemeld is, kon die polisie uit die voorlopige getuienis aflei dat die werknemer se verklaring vals was.”

Vervolgens het die polisie Sondag die klaer en twee vermeende makkers in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting Dinsdag hul eerste verskyning in die Wynberg-landdroshof maak.

“Die drie sal op aanklagte van sakeroof verskyn terwyl ʼn bykomende aanklag van meineed die werker in die gesig staar.”

ʼn Bedrag geld wat vermoedelik deel uitmaak van die kontant wat tydens die beweerde sakeroof gebuit is, is gevind.

Intussen het die polisie Sondagaand in ʼn afsonderlike voorval aan die Wes-Rand twee veiligheidswagte in hegtenis geneem terwyl hulle ʼn ondersoek na nog ʼn beweerde sakeroof gedoen het.

Die polisie het op ʼn klag in Kagiso gereageer. Die wagte daar het onder eed gesê dat hulle aan diens was toe hulle deur gewapende rowers oorval is. Volgens die wagte het die rowers met verskeie items, insluitend die wagte se tweerigtingradio’s en koperkabel, gevlug.

Die polisie het dadelik vermoed die storie is ʼn versinsel en die twee is in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting eersdaags op aanklag van meineed en diefstal in die hof verskyn.

“’n Ondersoek is aan die gang om vas te stel of die twee wagte met moontlik nog verdagtes verbind kan word.

“Meineed is ʼn ernstige en vervolgbare oortreding,” het die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, gesê. Hy het die twee ondersoekspanne geloof vir hul werk om agter die kap van die byl te kom.

“In die polisie se pogings om die aantal trio-misdade (kapings, sake- en huisrooftogte) te bekamp, moet ons baie energie en hulpbronne in ons reaksie op aangemelde sake aanwend. Die hulpbronne in albei hierdie gevalle kon moontlik op werklike misdaadtonele ontplooi word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.