Drie vas wat skilpad, bokkie wil verkwansel

(Foto: Verskaf)

Drie mans wat in afsonderlike voorvalle onderskeidelik ʼn skilpad en ʼn steenbokkie in Bloemfontein probeer verkoop het, is in hegtenis geneem.

Volgens die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) het hy in die afgelope week verskeie oproepe gekry oor ʼn man wat ʼn skilpad by die Bloemfonteinse skouterrein vir R200 probeer verkoop het.

Hy is intussen in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn vir oortreding van die Dierebeskermingswet asook die Vrystaatse ordonnansie op natuurbewaring.

Nog twee mans is ook in Bloemfontein in hegtenis geneem nadat hulle ʼn steenbokkie, wat net ʼn paar maande oud is, aan ondernemings in die suide van die stad probeer verkoop het. Hulle sal ook na verwagting binnekort op dieselfde aanklagte in die hof verskyn.

(Foto: Verskaf)

“Ek hoop dit sal as ʼn waarskuwing aan alle Suid-Afrikaners dien dat die aanhou of verkoop van ons inheemse natuurlewe sonder ʼn permit onwettig is en sou jy in die Vrystaat gevang word, kan jy stewige boetes en tronkstraf opgelê word,” het inspekteur Werner Botha gesê.

Die aanhou van wilde diere, selfs as huishoudelike troeteldiere, is onwettig sonder ʼn permit en kan boetes van tot R100 000 of gevangenisstraf van 10 jaar ingevolge die Vrystaatse natuurbewaringsordonnansies tot gevolg hê.

Die skilpad wat by die skouterrein gevind is, is in ʼn sak geplaas en het tekens van dehidrasie getoon nadat dit vir ʼn lang tyd in die son gehou is. Die steenbokkie, wat Bambi gedoop is, is in ʼn swak toestand en sal veeartsenykundige sorg benodig om ten volle te herstel.

Die Bloemfonteinse DBV het die lede van die publiek wat hulle met die ondersoeke bygestaan het, bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Laurika ·

Die ergste van al is, ek sal die diertjie soooo jammer kry, dat ek sal betaal en die dier vat, net om dit te red, waarna ek dit na ‘n toepaslike diere skuiling sal neem. Wat eintlik heel dom sal wees, want jy leer hierdie mense dat dit betaal om diere so te verwaarloos en onwettig te verkoop. Maar hoe anders? Bel jy die owerhede, en hulle is dalk te laat en die ou is skoonveld met die dier.

Cherokee ·

‘Volgens die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) het hy in die afgelope week verskeie oproepe gekry..’
Hulle moes nie wag vir ‘verskeie oproepe’ maar direk na die eerste een opgevolg het. Onwaarskynlik dat die ‘verskeie oproepe’ opeenvolgend was.

George ·

Weet jy hoeveel oproepe hul ontvang van grapjasse en bure wat suur is met mekaar? Dis nie moontlik om na elke oproep iemand uit te stuur nie.

Suzette ·

Dis gaaf dat hierdie gemors in hegtenis geneem is – die vraag is egter vir hoe lank? Sal sekerlik weer op borgtog vrygelaat word en heel waarskynlik nie eens tronkstraf kry nie – so gaan hulle net weer voort.

muffin ·

wel die regering het mos honde en katte lisensie in 1994 weggevat maar vandag sien ek meeste honde loop op strate en soek kos en waar is die eienaar wat moet hulle sorg. .

TruthDealer ·

Honde en katte lisensies was in elk geval belaglik, klink soos om n lisensie te moet hê om tamaties in jou agterplaas te groei of reenwater op te vang. Over reach by government to siphon money from citizens’ pockets, in my opinion. What an infringement of basic human freedom. Stel jou voor, ek moet lisensiegeld betaal omdat ek n kat wil hê, wat ek Self voer, laat regmaak en litter voor koop. Een ding wat die ANC reg gedoen het.

Di ·

Stem saam!!! Daar is nou duisende honde wat aangehou word in PATETIESE toestande, vasgeketting dag en nag, sonder kos en water in son sonder enige beskutting, hoekom??? Kry mos honde waarvoor hulle nie kan of WIL sorg nie. Met betaal van lisensies sal hierdie soort twee keer dink voor hulle diere aanskaf

Patch ·

Ek hoop daar word ook bietjie iets gedoen aan die manne wat langs die Sun City pad skilpaaie en verkleurmannetjies verkoop. Die arme diertjies word die hele dag in hul sakke rondgedra sonder kos of water. Maak my briesend.

Sê maar net ·

Arme diere…kom ek maak joú bietjie toe in ‘n sak, sonder kos en water, in die warm son, en dan sien ons hoe vinnig kruip jy daar uit! Armoede is nie ‘n verskoning vir wreedheid en om die wet te breek nie…..

My siening ·

Verkoop die drie aan rusland so dat die Ukraine met hulle klaar speel!

Kweperlat ·

Ons word kwaad vir hierdie optrede van mense, maar die vraag bly: wat weet hulle van die wet, wat besef hulle van die gevolge van hul dade? En dis juis ook hier waar die grootste frustrasie lê – môre gaan doen hy dieselfde, want Afrika leer nie vinnig nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.