Drie vas wat vrou glo voor hof ontvoer, vermoor

crime scene tapeDrie mans is in hegtenis geneem nadat hulle glo oor die naweek ʼn vrou, wat by ʼn Oos-Kaapse landdroshof vir haar man in hul motor gewag het, ontvoer en vermoor het.

Kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die voorval het Vrydag in Peddie, oos van Grahamstad, plaasgevind.

“ʼn Erg geskokte man het die Peddie-polisie genader en gesê hy het by die landdroshof stilgehou en uit hul motor geklim terwyl sy vrou, Noluthabo Maliza (25), in die motor gewag het met sy selfoon en die motorsleutels,” het Govender gesê.

Toe die man teruggekeer het na die plek waar hy parkeer het, was die motor en sy vrou skoonveld.

ʼn Soektog is dadelik na die vrou en die motor van stapel gestuur. Die voertuig is uiteindelik Saterdag in die Qamnyana-omgewing in die Tyefu-polisiëringsgebied opgespoor.

“Die omgewing waar die voertuig gekry is, is gefynkam. Die vrou se liggaam is in die omgewing aangetref. Daar was geen sigbare wonde aan haar liggaam nie. ʼn Nadoodse ondersoek word gedoen om die oorsaak van haar dood te bepaal en die uitkoms daarvan sal in die hof bekend gemaak word.”

Die Peddie- en Tyefu-polisie het sake van motordiefstal, ontvoering en moord aanhangig gemaak.

“Speurders het onverpoos aan die saak gewerk. Daar is Woensdag ʼn deurbraak gemaak en drie mans is in hegtenis geneem,” het Govender gesê.

Sy het gesê twee van die verdagtes, onderskeidelik 19 en 24 jaar oud, is in Peddie in hegtenis geneem. Die derde verdagte (27) is in Mdantsane opgespoor en in hegtenis geneem.

Twee van die verdagtes verskyn Donderdag in die Peddie-landdroshof en die derde sal Vrydag in dieselfde hof verskyn.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekspan geloof vir hul harde werk en die spoedige inhegtenisneming van die verdagtes. “Ek is bly dat diegene wat verantwoordelik is vir die sinnelose moord op ʼn jong vrou in hegtenis geneem is. Dit was speurwerk ten beste en toewyding om die bes moontlike diens aan die gemeenskap te lewer,” het Ntshinga gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

De Villiers ·

Werklik ‘n afskuwelike daad. Maar eerstens moet mens die polisie loof vir hul harde en goeie speurwerk om die verdagtes so vinnig aan te keer. Ongelukkig gebeur hierdie tipe barbaarse goed omdat die grondwet geskoei is op menseregte, waarvan die misdadigers in baie gevalle meer regte het as die slagoffer. Dit besef hulle ook alte goed, en misbruik dit deur aan te hou misdaad pleeg omdat hulle deur die wet beskerm word. Selfs in die tronk het hulle regte wat nie misken mag word nie. As daar wel regverdigheid was, en die doodstraf ‘n strafmaatreël was in die RSA, sou meeste van hulle twee keer gedink het voordat hulle sulke barbaarse misdade sou pleeg. Misdaad, veral halsmisdade, sou defnitief minder gewees het.

Jenna ·

Om more weer vrygelaat te word soos al die ander. Geen vertroue meer in die regstelsel in SA nie. Hoekom moet die polisie so hard werk om die mense te vang, as daar niks met hulle gebeur daarna nie? Hier is ‘n krisis in SA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.