Drie verdink van moord op polisiesersant

(Foto: SAPD/Facebook)

Drie verdagtes, tussen 21 en 27 jaar oud, sal na verwagting Woensdag in die Bluedowns-landdroshof verskyn in verband met die moord op ʼn polisiebeampte.

Dit volg ná sers. Andile Advocate Sirhunu (40) op 1 September 2021 in Hindleweg, Kaapstad geskiet is.

Zinzi Hani, woordvoerder van direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê die verdagtes is tussen Sondagmiddag en Maandagoggend in hegtenis geneem deur die eenheid wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek. “Hul ondersoek het hulle na die drie mans gelei vir hul beweerde betrokkenheid in die moord op Sirhunu, wat by Vispol, Lentegeur, gestasioneer was.”

Sirhunu en twee ander polisiebeamptes was tydens die voorval nie aan diens nie. Hulle het in ʼn Volkswagen Polo gery toe hulle op pad huis toe in Hindleweg stilgehou het om kos te koop. “Hulle is deur ʼn groep gewapende mans aangeval. Drie skote is op sers. Sirhunu gevuur. Hy het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.”

Die verdagtes staan tereg op aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.