Drie verdrink in Limpopo

‘n 39-jarige man se liggaam word uit die Ga-Rapheridam by Ga-Molepo gehaal (Foto: SAPD, Limpopo)

Drie persone het oor die naweek in afsonderlike voorvalle in Limpopo verdrink.

Die polisie in Mankweng doen ʼn geregtelike doodsondersoek nadat ʼn 39-jarige man in die Ga-Rapheridam by Ga-Molepo verdrink het, het konst. Maphure Manamela, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die man het glo van ʼn “selfgemaakte boot” visgevang toe dit Vrydagaand omstreeks 19:00 omgeslaan het. “ʼn Ooggetuie het die polisie ontbied en ʼn soek- en reddingspan is dadelik na die toneel ontbied. Die man se liggaam is uiteindelik Saterdagoggend omstreeks 10:00 gevind,” het Manamela verduidelik.

In ʼn tweede voorval is die liggaam van ʼn 48-jarige vrou Saterdagmiddag omstreeks 15:30 in die Khujwanadam in Khujwana gevind. “Die omstandighede rondom dié voorval is nog onbekend en die polisie se ondersoek duur voort.”

ʼn Derde persoon se liggaam is Sondag omstreeks 12:30, net ʼn paar kilometer buite Lephalale (Ellisras), in die Mogolrivier gevind.

“Na bewering het die 64-jarige man saam met sy vriende in die rivier visgevang toe sy visstok skielik vasgehaak het. Hy het in die rivier gespring om sy visstok uit te haal, maar het in die moeilikheid beland en verdrink,” het Manamela bygevoeg. “Die polisie se soek- en reddingspan is dadelik ontbied en sy liggaam is uit die rivier gehaal. Hy is reeds uitgeken as Jonas Letswalo van Marapong.”

Die polisie in die provinsie doen ʼn beroep op die gemeenskap om baie versigtig te wees wanneer hulle besig is met enige aktiwiteit rondom riviere of damme.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PJC ·

Het geen idee waar hierdie damme is nie want dit is regtig die eerste keer dat ek hierdie name hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.