Drie verhoor oor man se ‘huurmoord’

Argieffoto.

Drie mense sal dié week in die hof verskyn in verband met die moord op ʼn man van Ermelo in Mpumalanga wat opgehang is, en ʼn tweede man wat geskiet en vir die dood agtergelaat is.

Kol. Mtsholi Bhembe, woordvoerder van die polisie, het gesê Ayanda Mahlobo, Sithembiso Ndaba en Busisiwe Nkosi staan op ʼn reeks aanklagte tereg wat insluit moord met voorbedagte rade, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en aanranding.

Die aanklagte hou verband met ʼn voorval wat op 28 November 2016 in Ermelo plaasgevind het. Volgens die staat het Nkosi vir Mahlobo en Ndaba gehuur om Rofhiwa Tshifhango te vermoor. Nkosi het in die tyd by Tshifhango gewoon.

“Daar word vermoed dat Tshifhango vermoor is sodat die beskuldigde kan voordeel trek uit sy lewensversekering en pensioenuitbetalings,” het Bhembe gesê.

Op die betrokke dag in November 2016 het twee mans op Tshifhango se huis toegeslaan waar hy en Mandla Nkosi besig was om te ontspan. Die twee slagoffers is brutaal aangerand voordat hul aanvallers hulle na ʼn beboste gebied langs die N11 geneem het. Tshifhango is daar opgehang, terwyl Mandla in die kattebak van ʼn motor ingeboender, geskiet en vir die dood agtergelaat is.

ʼn Plaaslike boer het die volgende dag op hom afgekom en die polisie ontbied.

Die drie beskuldigdes is op 29 Desember 2016 in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

Die saak sal van 4 tot 15 Junie deur die Pretoriase rondgaande hof in Breyten aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alida ·

Lekker gevang! Nou kry hulle NIKS behalwe lang jare in die tronk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.