Drie vermeende transitorowers agter tralies

(Argieffoto)

Drie mans wat Vrydag glo betrokke was by ʼn mislukte rooftog in Atteridgeville in die weste van Pretoria, is reeds agter tralies.

ʼn Bende rowers het op die wagte toegeslaan kort nadat hulle geld by ʼn slaghuis in die Mnandi-winkelsentrum gaan oplaai het.

ʼn Skietery tussen die wagte en die rowers het uitgebreek en die bestuurder van die geldwa en een van die vermeende rowers is gewond. Laasgenoemde is op die toneel in hegtenis geneem.

Die ander verdagtes het met leë hande laat spaander, ʼn BMW in die omgewing gekaap en weggejaag, het kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, gesê.

Lede van die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, die taktiese reaksie-eenheid en lede van misdaadintelligensie het deurnag gewerk en Saterdag in die vroeë oggendure twee vermeende betrokkenes in Atteridgeville aangekeer.

Mulamu het gesê hulle word aangekla as medepligtiges omdat hulle glo die voertuig vir die rooftog voorsien het en omdat die mislukte rooftog glo in die huis waar hulle gevind is, beplan is.

Die gekaapte motor is intussen ook opgespoor en die polisie is steeds op die spoor van nog verdagtes.

Twee van die verdagtes verskyn Maandag in die hof op aanklag van onder meer poging tot gewapende roof, poging tot moord en kaping. Die derde verdagte sal verskyn sodra hy voldoende herstel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Byekonfyt ·

Spoedige beterskap aan die bestuurder van die geldwa. En die kroeks is gevang – dis goeie nuus. Ek bly altyd hoop dat booswigte se planne die gat sal word waarin hulle self val.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.