Drie verskyn binnekort vir Heyns-moord

Prof. Louis Heyns

Prof. Louis Heyns

Drie mans wat beskuldig word in verband met die moord op die pediater prof. Louis Heys, se hofsaak sal na verwagting in Augustus begin, het die Wes-Kaapse hooggeregshof Vrydag gehoor.

Staatsaanklaer Samantha Raphels het die hofdatum vir Juan Liedeman, ʼn sakeman van Malmesbury, en die broers Marthinus en Sarel van der Walt vir 4 Augustus bepaal.

Raphels sê ʼn moontlik pleitooreenkoms sal met Liedeman bereik word, maar dit is nog nie gefinaliseer nie.

Regterpresident John Hlophe het die saak tot 23 Mei uitgestel vir nog ʼn voorverhoorkonferensie.

Heyns, ʼn dosent aan die Universiteit van Stellenbosch en pediater by die Tygerberg-hospitaal, het in Mei 2013 verdwyn. Sy liggaam is op 30 Mei omstreeks 04:00 in ʼn vlak graf naby die minigholfbaan in die Strand opgespoor.

Die broers staar aanklagte van moord en roof in die gesig.

Liedeman, ʼn skrootwerfeienaar van Malmesbury, word daarvan beskuldig dat hy Heyns se gesteelde voertuig in sy besit gehad het. Die direkteur van openbare vervolging het besluit om hom aan te kla van medepligtigheid in ’n rooftog en regsverydeling. Hy is in Junie 2013 vrygelaat op borgtog van R20 000 nadat hy uitsonderlike omstandighede bewys het. Hy het in sy aansoek om borgtog gesê hy het voor en na sy inhegtenisneming dreigemente van die Van der Walts ontvang.

Liedeman sê Sarel het eers vir hom gewerk, maar hy het hom konfronteer en dadelik afgedank nadat hy glo van die onderneming gesteel het. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.