Drie vissermanne sterf

Argieffoto: NSRI

Argieffoto: NSRI

Drie vissermanne het oor die naweek in drie afsonderlike voorvalle gesterf.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê twee vissermanne het vermoedelik verdrink terwyl die derde visserman glo aan ʼn hartaanval dood is.

“Die NSRI-Wilderness se bemanningslede is Sondag na Voëlklip by Heroldsbaai ontbied waar ʼn 32-jarige visserman van George vermoedelik deur ʼn sterk seestroom meegesleur is terwyl hy saam met vriende gehengel het,” het Lambinon gesê.

“Ná ʼn uitgebreide soektog is die man in ʼn kolk, tussen rotse opgespoor. Die man is na die strand geneem waar noodhulp toegepas is, maar alle pogings om hom by te bring was tevergeefs. Hy is op die toneel dood verklaar.”

Vroeër Sondagoggend is bemanning van die NSRI-Mykonos na ʼn visserboot ontbied waar ʼn 31-jarige bemanningslid vermoedelik ʼn hartaanval gehad het. Daar word vermoed dat die man, van Kaapstad, gesterf het toe die boot op pad was na Saldanhabaai. Die man is met die boot se aankoms by die hawe in Saldanhabaai dood verklaar.

Saterdag is bemanning van die NSRI-Richardsbaai omstreeks 11:50 na die suidelike dok van die Richardsbaai-hawe ontbied nadat ʼn visserman tussen die dolosse beland het. “Daar word vermoed dat die volwasse visserman deur ʼn golf van die dok afgespoel is.”

Die man is deur paramedici van Netcare 911 op die toneel dood verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.